‘OOM PAUL SE DELI’ OPEN BY VOORTREKKERMONUMENT

Pretoria, 14 Februarie 2020. Op 15 Februarie open die deure van ‘n splinternuwe wegneem-ete fasiliteit met die naam van ’Oom Paul se Deli’ by die Voortrekkermonument. Gerieflik geleë aan die regterkant van die trappe oppad na die Monument beloof hierdie fasiliteit, om met ‘n vars en moderne aanslag aan die kullinêre behoeftes van plaaslike en internasionale toeriste te voldoen.

Maar waarom, sou mens kon vra, word dié nuwe Deli na Oom Paul vernoem? Wat het hy met die Monument in gemeen? Daar is verskeie verbintenisse tussen dié stoere ou Volksvader wat tussen 1884 en 1902 president van die Zuid-Afrikaansche Republiek was en die Voortrekkermonument.

President Stephanus Johannes Paulus Kruger, wat veral met die Suid-Afrikaanse, Anglo Boereoorlog (1899- 1902) verbind word, het in die eerste plek as jong seuntjie, saam met sy ouers aan die Groot Trek deelgeneem. Hy was onder andere in die laer in 1836 met die slag van Vegkop en word op paneel 5 van die Marmerfries in die Heldesaal van die Monument uitgebeeld.

Baie jare later, met die 50e herdenking van die Slag van Bloedrivier in 1888, het Oom Paul tydens die amptelike verrigtinge voorgestel dat die wel en weë van die Voortrekkers herdenk behoort te word en wel in die vorm van ‘n gedenkteken of monument in Pretoria. Hoewel dit eers in 1938 gematerialiseer het, kan hy dus as die ‘vader’ van dié gedagte en die Voortrekkermonument beskou word.

Na die mislukte Jameson-inval in die Zuid-Afrikaansche Republiek in 1896 het Oom Paul besluit om Pretoria te beveilig deur ‘n reeks forte op koppies om dié stad te laat oprig. Fort Schanskop, wat eerste voltooi was, is in 2001 deur die Voortrekkermonument van die Stadsraad gekoop en is vandag een van die historiese besienswaardighede op dié terrein.

Laaste maar nie die minste nie een van die bekendste toeriste aantreklikhede in die land, nl die Krugerwildtuin, dra Oom Paul se naam. En hoe is dit relevant mag mens moontlik vra? Die antwoord is voor die handliggend: Die nuwe eienaars van Oom Paul se Deli nl Tindlovu, bestuur reeds vir jare verskeie restaurant- en wegneem-ete fasiliteite in die Wildtuin en sien uit na hierdie nuwe uitdaging om Oom Paul ook op dié wyse te gedenk.

Vir verdere navrae kontak gerus vir Zandrie by 082-521-0491 of vtm@tindlovu.co.za

Teken by ons Nuusbrief aan

Ad
Ad
Ad
Ad