Pretoria, 2 September 2019. Die Voortrekkermonument en die Stad Tshwane bied met trots ‘n uitstalling van die werke van JH Pierneef aan vanaf Vrydag, 6 September tot 8 Oktober 2019. Die uitstalling bestaan uit uitgesoekte werke van die versameling van die Pretoria Kunsmuseum, en sal deur mnr Michael Bernardi geopen word.

Jacob Hendrik Pierneef (1888 1957) was een van Suid-Afrika se mees prominente kunstenaars en sy geometriese styl het kuns in Suid-Afrika dramaties verander. Kunswerke van sy verblyf in Pretoria sal die kern uitmaak van hierdie uitstalling. Gedurende sy loopbaan van 50 jaar as skilder, het hy eindeloos geëksperimenteer in ‘n poging om die outentieke siel van die Suid-Afrikaanse landskap d.m.v sy eie kleure en lyne opreg weer te gee.

Die uitstalling vind plaas onder die vaandel van die vierde GauFees, ‘n dinamiese plaaslike gemeenskapsprojek wat in 2016 in Tshwane van stapel gestuur is.’n Groot verskeidenheid aktiwiteite vind plaas by twaalf van Tshwane se top besienswaardighede, wat feesgangers die kans bied om oor die hele stad vermaak van uitstaande gehalte te geniet. Die fees begin op 20 September en eindig op 6 Oktober. Meer inligting oor die fees kan verkry word by www.gaufestival.com. Skakel ook 012 460 6033.

Die Pierneef-uitstalling kan van Maandae tot Vrydae van 08:30 tot 15:00 besigtig word. Toegang tot die uitstalling is R15 per voertuig. Indien die Monument ook besoek word, geld die gewone toegang. Navrae kan gerig word aan Thea Furstenburg by thea@vtm.org.za of 012 326 6770.

Teken by ons Nuusbrief aan

Ad
Ad
Ad
Ad