Pretoria, 8 Oktober 2019. Na ‘n mislukte motorkaping by Fonteinedal, het drie rowers, waarvan twee gewapen was, die wag op diens by die voorhek van die Voortrekkermonument vanoggend net na een aangeval en beroof.

Tydens die aanval het hulle die venster van die hekkantoor gebreek en die kasregister en rekenaarskerm gesteel. Hulle kon nie die rekenaar se hardeskyf steel nie. Hulle het ook die kamera by die hoofhek verwoes. Geen kontant word snags in die hekkantoor of kantore op die terrein van die Voortrekkermonument gehou nie. Die rowers het ook die hekwag se persoonlike besittings geneem. Hy is gelukkig nie ernstig beseer nie.

Volgens die hekwag was die mans nie Suid-Afrikaanse burgers nie. Ons dank aan die polisie wat reeds vroeg vanoggend op die terrein was. Ten spyte van die feit dat die rowers die kamera by die hek vernietig het, kon die polisie duidelike foto’s van die drie rowers aflaai.

Die Monument gaan vandag voort met normale besigheidsure en besoekers maak van die alternatiewe hekkantoor gebruik.

Teken by ons Nuusbrief aan

Ad
Ad
Ad
Ad