16 April 2020, Pretoria.

Die Voortrekkermonument is pas deur die Toerisme Graderingsraad van Suid-Afrika (TGCSA) in kennis gestel dat nie minder nie as drie entiteite op die terrein as historiese funksiefasiliteite gegradeer is.   

Die Monument, wat in 2011 deur die SA Nasionale Erfenishulpbronagentskap as  Nasionale Graad 1 Erfenisterrein verklaar is, het ‘n 4-ster gradering ontvang terwyl  die Anglo-Boereoorlog fort, Fort Schanskop, en die groot  Monument Amfiteater (1949) elk deur die TGSA as 3-ster historiese funksiefasiliteite gegradeer is .

Vroeër die jaar is die Voortrekkermonument deur die TGCSA, genader wat besluit het om die fooie vir die graderingsaansoek te borg. Hierdie inisiatief vorm deel van die Stad en die TGCSA se gesamentlike veldtog om terreine met die gradering van hulle fasiliteite by te staan.

Die Voortrekkermonument is geleë  in a 341 ha naturreservaat en is ‘n gesogte toeriste aantreklikheid in Gauteng.  Die hoogtepunt in die monument is ongetwyfeld die historiese marmerfries in die Heldesaal, wat as een van die langstes in die wêreld beskou word.  Die akoestiek in hierdie saal kan vergelyk word met dié  van Europese katedrale en het ‘n nagalm van by die 6 sekondes wat dit ideaal maak vir klassieke musiek- en kooruitvoerings.  

Fort Schanskop is ‘n verklaarde graad 2, Provinsiale Erfenisterrein en een van vier forte wat na die Jamseon-inval in 1897 rondom Pretoria opgerig is. Vandag huisves die fort ‘n Anglo-Boereoorlog uitstalling en word die klein amfiteater vir aanbiedings soos die gewilde maandelikse  Park Acoustics konserte aangewend.

Die Monument amfiteater is vir die inwyding van die Voortrekkermonument op 16 Desember 1949 voltooi. Dit kan tot 30 000 mense akkommodeer en word allerweë as een van die grootste Amfiteaters in Afrika beskou. Internasionale kunstenaars het al daar opgetree.  

Vir ‘n Virtuele toer van die monument en meer  inligting oor die terrein en fasiliteite, besoek ons webblad by  www.vtm.org.za.

UITGEREIK DEUR: CECILIA KRUGER

BESTURENDE DIREKTEUR

VOORTREKKERMONUMENT EN NATUURRESERVAAT

Ad
Ad
Ad
Ad