Voortrekkermonument

Voortrekkermonument

Die groot, grys granietkolos is uit alle rigtings sigbaar as Pretoria genader word … die massiewe Voortrekkermonument, gebou ter ere van die Voortrekkers wat die Kaapkolonie tussen 1835 en 1854 in hulle duisende verlaat het. Die argitek was Gerard Moerdijk en dit was sy ideaal om ‘n monument te ontwerp wat as ‘n “gedenkteken duisend jaar en langer moet staan om aan die nageslagte die geskiedenis en betekenis van die Groot Trek te verduidelik.”
Lees verder, kliek hier

Afgesien van die massiewe grootte van die Monument, is daar veral twee elemente wat hierdie monument besienswaardig maak: die historiese Fries en die Senotaaf.
Lees verder, kliek hier

Vir meer inligting kontak die Navorsingssentrum: 012 326 6770

Heldesaal

Die besoeker wat by die groot kiaatvoordeur van die Monument inkom, word begroet deur ‘n asemrowende gesig: ‘n massiewe, hoë saal, 25 x 25 x 41 meter, met marmervloere en ‘n indrukwekkende marmerfries (92 meter lank en 2,3 meter hoog) wat historiese taferele uit die geskiedenis van die Groot Trek verbeeld. Vier groot boogvensters met geel Belgiese glas omflank die Heldesaal en onwillekeurig skep dié ruimte die indruk van ‘n gewyde plek, soos ‘n tempel…

Al die marmer in die Heldesaal, buiten dié van die Fries, kom uit groewe by die dorpie Marble Hall in die Noordelike Provinsie. As daar van die boonste koepel af op die interieur van die Heldesaal afgekyk word, is dit duidelik dat die marmer volgens ‘n spesifieke patroon op die vloer uitgelê is. Dit neem die vorm aan van waterrimpels wat wyer en wyer na buite uitkring, met die Senotaaf as middelpunt – simbolies van ‘n trek na vryheid wat op klein skaal begin het, maar uiteindelik ‘n magtige golfbeweging in die geskiedenis geword het, wat vandag nog sy golfslag laat voel.

Die Historiese Fries bestaan uit 27 panele wat in Italië uit Quercetta-marmer gekap is. Die beeldhouwerk vorm ‘n unieke eenheid, hoewel vier verskillende kunstenaars daaraan gewerk het – insigself ‘n merkwaardige prestasie.

Die verhaal van die lief en leed van die Trek word uitgebeeld vanaf 1835 tot 1852, en nie net die politieke geskiedenis en betekenis daarvan nie, maar ook die maatskaplik-kulturele sy. Daar is verhale van moed en deursettingsvermoë, siekte en dood, neerlaag en oorwinning, vriendskap en verraad. Nie net beeld die fries die volkswording van die Afrikaner uit nie, maar ook die kontak en verhoudinge met Swart Volke in die binneland in die 19de eeu – vir dié volke ook ‘n tyd van onderlinge magstryd en stryd om oorlewing.

Die werk aan die Fries het reeds in 1942 begin en die beeldhouers wat letterlik jare van hulle lewe daaraan gewy het, was Hennie Potgieter, Peter Kirchhoff, Frikkie Kruger en Laurika Postma. Die totale koste verbonde aan die vervaardiging van die Fries was £60,000.

Museum

Die ATKV het tydens die 1938 Groot Trek herdenking ‘n landswye veldtog geloods waartydens Voortrekkergedenkwaardighede ingesamel is. Die vragte museumitems wat ingesamel is, is tydelik by Hartenbos gestoor met die gedagte dat dit eendag in die Voortrekker-monument se eie museum ten toon gestel sou word. Die destydse doyenne van die Museum-wese in die Transvaal, mev Kotie-Roodt Coetzee het haar dan ook vir so ‘n museum beywer. Hoewel daar nie plek vir ‘n museum in die Monument was nie, het ‘n tydelike uitstalling in die kelder tydens die inwyding in 1949 groot opspraak verwek en die hoop op ‘n permanente Voortrekkeruitstalling het opnuut vlamgevat.

Intussen het die Nasionale Kultuurhistoriese Museum in Pretoria die rol vertolk van kurator vir die voorwerpe wat aan die Monument geskenk is.

‘n Nuwe “Voortrekkermuseum” is uiteindelik in die sestigerjare op die terrein gebou. Dit het ook voorsiening gemaak vir die 15 tapisseriepanele wat in 1960 deur die Vrou en Moederbeweging van die ATKV aan die Beheerraad geskenk is.

Dié museum is steeds deur die Kultuurhistoriese Museum bestuur tot en met Maart 2000, toe die Direksie van die Voortrekkermonument en Natuurreservaat die Museum oorgeneem het.

Teen Desember 2000 is die museum terug na die kelder van die Monument geskuif. Terselfdertyd is die uitstalling met inligtingspanele aangevul sodat ‘n beter gebalanseerde beeld van die Trekkers, hulle alledaagse lewe en verhoudinge met ander inwoners van Suider-Afrika, geskep kon word. Die tapisserie is na die Senotaafsaal verskuif waar die vlae van die onderskeie Voortrekkerrepublieke ook hang. Die museum is beslis ‘n besoek werd.

Die gebou wat voorheen as museum gedien het, word tans as kunsgalery en kantoorruimte vir die uitgebreide personeel van die Monument gebruik.

.

Senotaafsaal

Die Senotaaf is die sentrale fokuspunt van die Monument. Die woord “senotaaf” beteken ‘n “graf sonder beendere”. Dit is dus ‘n leë graf – die simboliese rusplek van Piet Retief en al die ander Voortrekkers wat tydens die Groot Trek gesterf het. Die Senotaaf is van rooi graniet uit die omgewing van Parys in die Vrystaat vervaardig.

Een keer per jaar, op 16 Desember, skyn ‘n sonstraal deur die opening in die boonste koepel van die Monument op die middel van die Senotaaf. Lees Meer

.

Tapisserie

Die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging se Vrou-en-Moederbeweging het op 14 Desember 1960 die Geskiedkundige Tapisserie aan die Voortrekkermonument geskenk. 

Nege vroue het agt jaar lank aan die vyftien tonele uit die Groot Trek gewerk en dit bevat altesaam meer as 3,3 miljoen stekies. W.H. Coetzer het die tonele op tapisseriegaas geskilder, waarna die vroue dit uitgewerk het.

Ad
Ad
Ad
Ad