Pretoria 17 April 2018. Die Voortrekkermonument se jaarlikse Militêre en Geskiedenisfees groei uit sy nate. Die fees vind plaas op Dinsdag, 1 Mei en geniet hierdie jaar die volle ondersteuning van die Hoof van die SA Leër. Die SA Pantserformasie, Infanterie, Genieformasie, Tegniese Dienste, Opleidingformasie en die Lugafweer sal uitrusting en voertuie uitstal.

Die arenaprogram word om 11:00 geopen deur die drilpeloton van die Artillerie Regiment al die pad van Potchefstroom. Daarna sal daar om 12:00 ‘n verbyvlug van 3 Alouette-helikopters plaasvind en direk daarna sal ons groot ondersteuners Group73, ‘n helikopterdemonstrasie lewer. Hierdie jaar is daar ook ‘n hond betrokke. Deur die loop van die dag sal die vervaardigers van My Father’s War en Angola the War, die rolprente gratis in die Monumentrestaurant onder die amfi vertoon. Group73 wat die helikoptervertoning om 12:00 lewer, het ‘n reuse aandeel in die vervaardiging van My Father’s War gehad deurdat hulle helikopters, vlieëniers, militêre adviseurs en aksie-ekstras daarvoor verskaf het.

Die Monument se kanon Susanna sal om 13:00 afgevuur word. Susanna is in 2003 deur die Cape Town High School aan die Monument geskenk. Sy is ‘n Britse 6 pondgunade skeepskanon, ca. 1820. Die Kanonvereniging van Suid-Afrika borg tans die swart kryt wat gebruik word om Susanna te kan vuur. Hulle sal ook ‘n paar klein kanonnetjies op die fees vertoon.

Ou staatmakers en gereelde uitstallers soos die Zwartkop Scale Modellers-klub sal met ‘n groot uitstalling spog, en vyf plaaslike mesmakers sal hulle ware ten toon stel. Heelwat militêre publikasies sal te koop wees, waaronder dié van Wynand du Toit en Louis Lubbe, wat self hier sal wees om hul boeke te teken. Handelaars sal militaria, medaljes, uniformstukke en selfs militêre kunswerke verkoop. Omtrent 40 militêre nabootsers met militêre voertuie uit die Tweede Wêreldoorlog, Vietnam en die Grensoorlog behoort kleur aan die geleentheid te verleen. Daar sal selfs ‘n paar Oos-Duitsers wees.

Die fees vind plaas van 09:00 tot 15:00 waar die antiek- en versamelaarsmark gewoonlik plaasvind. Besoekers moet bedag wees op die feit dat geen braaivleisplekke op die piekniekterrein tydens die fees gebruik mag word nie, en dat geen besoekers voor 07:00 op die terrein toegelaat sal word nie.

Daar is kosstalletjies en ‘n afgebakende koffiehoekie met koffie en lekkernye. Die ten volle gelisensieerde restaurant, reg onder die feesarea, sal tydens die fees oop wees. Toegang is R30 per voertuig, ongeag die getal insittendes. Ons versoek dat besoekers die R30 byderhand het wanneer hulle by die hek stilhou, om so toegang te bespoedig. Navrae kan gerig word aan Geraldine Paulsen by bemarking@vtm.org.za of by 012 326 6770.

Teken by ons Nuusbrief aan

Ad
Ad
Ad
Ad