Pretoria, 10 September 2018. Erfenisdag, 24 September, word hierdie jaar by die Voortrekkermonument gevier met ‘n Erfenisfees, die 80-jarige bestaan van die Voortrekkermonument en die laaste Antiek- en Versamelaarsmark vir 2018. Die Antiekmark sal oudergewoonte op die dak van die groot amfiteater plaasvind en die Erfenisfees op die piekniekterrein. Beide die mark en die erfenisfees duur van 09:00 tot 15:00 en toegang is R30 per motor. Besoekers word gevra om asseblief vir die hek te sê waarheen hulle gaan en om die geld byderhand te hou.

Die Erfenisfees gaan ‘n heerlike gesinsdag vol interessante aktiwiteite en kultuurdemonstrasies wees. Ons gaan brood in die tradisionele bakoond bak, koffie brand, kerse giet, botter maak en swepe vleg. Die Trekboervereniging bied weer ‘n tipiese Voortrekkeruitstalling met kakebeenwaens en pioniersgoedere op die “ou werf” naby die bakoonde aan, en daar is ook demonstrasies van smeewerk en voorlaaier skiet. Naas allerlei snuisterye, handwerk en boekkraampies, sal heerlike potjiekoskos, ingelegde produkte en tuisgemaakte happies te koop aangebied word. Kanon Susanna sal om 12:00 vreedsaam bulder en Nadine en Joe Voster sorg vir die musiekvermaak.

Die Antiemark is nou reeds veertien jaar oud en word beskou as die beste van sy soort in die land. Stalletjies is onbekombaar. Hulle is so skaars omdat uitstallers nie maklik van hulle staanplek afsien nie. Daar is tans 171 stalletjies wat ‘n verskeidenheid antiek– en versamelaarsitems verkoop. Besoekers kan ou erdeware, muntstukke, porselein, Dinky Toys, eetware, messe, juwele, glasware en nog baie meer op hierdie mark kry.

Daar is ‘n restaurant en verskeie kosstalletjies op die mark, asook parkering vir persone met rolstoele. Besoekers word gevra om asseblief nie hulle honde of ander troeteldiere saam te bring nie, aangesien die Monument in ‘n natuurreservaat geleë is.

Navrae aangaande die Antiekmark kan gerig word aan Geraldine Paulsen by 012 326 6770 of by bemarking@vtm.org.za. Navrae aangaande die Erfenisfees kan gerig word aan Thea Furstenburg by thea@vtm.org.za.

Teken by ons Nuusbrief aan

Ad
Ad
Ad
Ad