Pretoria 23 April 2019. ‘n Onverwagte ontvoerpoging sal op Woensdag, 1 Mei by die Voortekkermonument se jaarlikse Militêre- en Geskiedenisfees plaasvind. Gelukkig sal ons borg, Group73, byderhand wees om die poging the fnuik.

Die arenaprogram sal om 10:00 afskop met ‘n vertoning deur die Pretoria SAPD-orkes. Daarna sal ‘n kort demonstrasie van die berede soldate se vegvermoë tydens die Grensoorlog plaasvind. Die helikoptervertoning begin om 12:00. Susanna sal om 13:00 by die groot amfi afgevuur word. Susanna is ‘n Britse 6 pond-gunade skeepskanon, ca. 1820. Die feit dat sy nou al amper 200 jaar oud is, het nog niks aan haar brul verander nie. Die Kanonvereniging van Suid-Afrika borg tans die skote wat Susanna op die eerste Vrydag van elke maand by Fort Schanskop skiet.

Ou staatmakers, die NRCC, MCRS en die Dundee Diehards (almal nabootsers van verskeie oorloë), sal teenwoordig wees met interessante uitstallings en wapens wat oorloë verteenwoordig van na die Groot Trek tot by die huidige Afghanistan.

Heelwat militêre boeke sal te koop wees, terwyl omtrent 10 skrywers, o.a. Johan Raath, Deon Lambrect, Roelf Schoeman en Eeben Barlow teenwoordig sal wees om hul boeke te onderteken. Handelaars sal militaria, boeke, medaljes, uniformstukke en pragtige skaalmodelle van onder andere Ratels en Caspirs verkoop. Daar is ook plaaslike mesmakers en uitsonderlike penne vervaardig van .303-patrone.

Die fees is van 09:00 tot 15:00 en vind plaas op die dak van die groot amfiteater met die arenaprogram by die piekniekarea se ovaal. Besoekers moet asb daarop let dat geen braaivleisplekke tydens die fees gebruik mag word nie.

Daar is kosstalletjies en ‘n teetuin met sitplek vir die dorstiges, en ook ‘n kroeg in die restaurant onder die feesarea. Toegang behels R40 per voertuig, ongeag die getal insittendes. Kaartjies kan vooraf gekoop word by iTickets. Navrae kan gerig word aan Geraldine Paulsen by bemarking@vtm.org.za of by 012 326 6770.

Teken by ons Nuusbrief aan

Ad
Ad
Ad
Ad