Pretoria, 12 Junie 2018. Na aanleiding van die onrusbarende styging in misdaad in Gauteng en die onlangse gewapende roof by die Voortrekkermonument Erfenisterrein, het die VTM-bestuur asook die Monument Restaurant en die geskenkwinkel, De Afrikander Handelshuis, besluit om so gou as moontlik stelsels te implementeer wat die beskikbaarheid van kontant op die terrein tot die minimum beperk.

Hierdie besluit is geneem ten einde besoekers en personeel op die terrein so ver as moontlik te beveilig. Die Monument is ‘n verklaarde Graad 1 Nasionale Erfenisterrein, en word deur mense van regoor die wêreld besoek.

Volgens me Cecilia Kruger, Besturende Direkteur, sal besoekers wat slegs kontant tot hulle beskikking het, beslis nie weggewys word nie, maar die VTM versoek dat besoekers dit oorweeg om eerder met debiet- of kredietkaarte te betaal of om vooraf kaartjies aanlyn te koop.

Die VTM gebruik reeds geruime tyd ‘n aanlyn besprekingsfasiliteit waar toegangskaartjies te koop is: www.tixsa.co.za. Kopers op tixsa kan nou d.m.v. ‘n EFT aanlyn betaal. Vir meer inligting kan hierdie skakel gebruik word: https://youtu.be/X3wNcUe8a38.

Kaartjies kan ook op die VTM se webtuiste www.vtm.org.za of die Facebook-blad @Voortrekkermon gekoop word.

Teken by ons Nuusbrief aan

Ad
Ad
Ad
Ad