Mediaverklaring

25 Junie 2021

Verskeie organisasies sit hand by om die Voortrekkermonument se terrein te help opknap

Die Suider-Afrika Agri Inisiatief (SAAI), Tuks Landbou en AfriForum Jeug het vandag help gras sny, ontbos en onkruiddoder gooi by verskeie gedeeltes van die monument se terrein.

Van die fokusareas was die amfiteater, Fort Schanskop en die koppie by die Voortrekkermonument self.

Tientalle studente van die Universiteit van Pretoria en die jeug het saam met die monument se terreinpersoneel hul hande vuilgemaak.

Die rante van die paaie by die monument is gesny en die stormwateraflope is ook skoongemaak.

Die terreinbestuurder Danie Dreyer sê dit is belangrik om dié gedeeltes se gras te sny en te ontbos omdat dit nou winter is en daar altyd ’n gevaar vir veldbrande is.

Dreyer is ook in sy noppies oor hoe die jeug inspring om die erfenisterrein te help bewaar.

“Ek het dit regtig nie verwag dat die jongspan so gretig is om in te spring om te help nie. Dit wys jou mense is nog baie trots op die monument en die terrein.

“Ons nooi sommer die publiek ook uit om hand by te sit. Ons personeel waardeer elke bietjie hulp wat hulle ontvang,” sê Dreyer.

Studente van Tuks sê dit is lekker om hul erfenis te help bewaar.

“Dit is lekker om te kan help, en dit hou ons besig. En dis ook lekker om in die buitelug te kan wees en ’n breek te vat van die studies af,” sê Tian Bezuidenhout, ’n derdejaarstudent in Veekunde.

Die volgende skoonmaakaksie sal binnekort aangekondig word.

Ad
Ad
Ad
Ad