Mediaverklaring

06 Julie 2021

Die Erfenisstigting het die eerste skildery ontvang, wat ’n privaat persoon geskenk het, van die inhuldiging van die Voortrekkermonument op 16 Desember 1949.

Erich R. Schulz het die skildery in 1949 geskilder, en op die dag wat hy 107 jaar oud sou word, het sy dogter Ingeborg Schulz dit aan die monument se museumversameling geskenk.

Die skildery beeld ’n man en ’n vrou uit wat op die dag van die inwyding na die Voortrekkermonument staar.

Schulz sê haar pa het ’n bakkery in Sunnyside gehad en verskeie kunswerke geskilder. Hy was ook baie lief vir die monument en die Afrikanergeskiedenis.

Op die vraag hoekom hy die skildery aan die monument se museumversameling sou skenk, sê Schulz:

“Wat anders gaan daarvan word? My pa was lief vir die monument en hy sou daarvan gehou het as dit hier bewaar word.

“Hy sou 107 geword het, so dit is ’n baie spesiale dag om dit aan die museum te skenk.”

Petra Luus, die museumkurator, sê hulle ontvang verskeie versoeke om foto’s en programme van die inhuldigingsdag aan die museum te skenk, maar dié is die eerste skildery van die inhuldiging wat ’n privaat persoon geskenk het.

“Dit wys jou watter waarde kuns aan geskiedenis bied. In die museumversameling is daar van bekende kunstenaars soos WH Coetzer se skilderye en nou is ons ook die trotse bewaarders van ’n skildery van iemand soos Erich Schulz.

“Ons kan nie genoeg dankie sê vir die familie om ons te vertrou om na die kultuurskat om te sien nie,” sê Luus.

Sy dogter sê ook sy is beïndruk met hoe daar na die terrein omgesien word en die standhouding wat gedoen word.

Die museumversameling is nie oop vir die publiek nie, maar daar word wel uitstallings gereël waar van die werke uitgestal word.

Daar kan wel afsprake gemaak word, sou persone die versameling wou besigtig.

Ad
Ad
Ad
Ad