“As ons vandag praat oor ‘n verklaring, dan sê ons vir mekaar, ons beweeg in ‘n baie ou tradisie van verklarings, van manifeste, van dokumente, van traktate. Dit is hoe ons dit doen. In krisistye, in onseker tye verwoord ons waar ons staan op papier.”

So sê dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument.

Naastenby 120 verteenwoordigers van Afrikanerorganisasies en -leiers het Maandagoggend by die Voortrekkermonument opgedaag om die Afrikanerverklaring in die Heldesaal aan te hoor.

Alida Kock, dr. Danie Langner, Flip Buys en dr. Theuns Eloff was die sprekers tydens die geleentheid.

Tydens die Afrikanerverklaring se aanhoor, het dr. Danie Langner verduidelik waarom daar met die aflê van die verklaring na historiese kontinuïteit gesoek word.

“Die eerste saak wat ek wil uitlig, is dat die Afrikaner, die trekkers van ouds, nooit in isolasie geleef, getrek en gewerk het nie. Die Afrikaner was altyd in verhouding met … In hierdie friese word daar besondere verhoudings uitgebeeld,” sê Langner.

Langner wys na die friese en lig die verhoudings met Britse setlaars, Portugese, Skotte, Matabeles, Barolongs, Zoeloes, ‘n Italiaanse vrou en  Swazi’s uit. Hy verwys ook na die verhouding waarin Afrikaners met mekaar gestaan het.

Langner lig verder die friespaneel uit waar Piet Retief as goewerneur bevestig word.

“Die Groot Trek was nie ‘n Wilde Weste-trek nie, dit was ‘n ordelike gemeenskap,” sê Langner.  “Van die begin af was dit ‘n republiek op trek. Natuurlik op hierdie trek in verhouding met mekaar was daar verskille en dit word treffend daar uitgebeeld.”

Op Langner se tweede punt verwys hy na die vyf tafels wat dwarsoor die friespanele verskyn.

“Wat maak ‘n tafel belangrik? ‘n Tafel konsesieer ‘n verhouding. ‘n Tafel skep orde. ‘n Tafel is ‘n plek vir ‘n ordelike gesprek. Wanneer ‘n mens om ‘n tafel sit, is dit ‘n uitdrukking van gemeenskap, onderhandeling, van gesels.”

“As ons kyk na die tafel waar Retief en Dingaan onderhandel, daar is nie ‘n grondgryping nie, daar is nie meerderwaardigheid of minderwaardigheid nie. Retief en Dingaan kyk mekaar vas in die oë, en die moment wat vasgevang word, is waar die traktaat, koopkontrak, onderteken word,” gaan Langner voort.

Voor, langs die verhoog, het die Voortrekkermonument die tafel uitgestal waaroor Retief en Dingaan onderhandel het vir die gaste om te aanskou. Op die tafel lê ‘n afskrif van die traktaat wat Retief en Dingaan geteken het, Retief se waterbottel en gebedeboek.

Langner beskou hierdie tafel as een van die Afrikaners se belangrikste artefakte en die eerste onderhandelingstafel in Afrikanergeskiedenis.

“Na dit (die onderhandeling met Dingaan) was daar baie ander belangrike onderhandelingstafels, maar rondom hierdie klein houttafeltjie het ons gesit en gepraat oor ‘n toekoms vir ons mense en ons kinders in hierdie land.”

Langner wys verder die simboliek van Retief se gebedeboek en waterbottel uit. Volgens Langner is die bloed aan Retief se gebedeboek ‘n simbool van die opoffering wat van die Trekkers gevra is, maar dit is veral die waterbottel wat vir hom uitstaan.

“Wat die waterbottel vir my besonders maak, is nie waar dit op die fries uitgebeeld word nie, maar in die tapisserie in die Senotaafsaal. Die toneel van daardie tapisserie is waar Piet Retief en sy seun sy vrou en sy gesin die laaste keer groet. Terwyl Retief sy vrou groet, is sy dogter besig om koel water in haar pa se waterbottel te gooi vir die reis wat voorlê.

“Ek glo dit is wat ons ook vandag met hierdie verklaring wil bereik. Om te sê dat ons in hierdie land, nie net vir ons nie, maar ook vir ons kinders nog vir geslagte wat kom, die koel water in hierdie land in vryheid, veiligheid en voorspoed wil geniet.”

Vandag se aangeleentheid in die Voortrekkermonument het weer bewys dat die monument waarlik ‘n kultuurtuiste vir die Afrikaner is, waar almal welkom is. Ons hedendaagse kwessies is diep gewortel in die geskiedenis en kultuur wat ons op hierdie terrein vind.

Word ‘n vriend van die Voortrekkermonument en help ons om ons erfenis behoue te laat bly: www.vtm.org.za/donasies/