Funda Ontdekkingsentrum

Funda Ontdekkingsentrum
Die Funda Ontdekkingsentrum fokus op leerplangerigte skool-programme deur selfontdekking en studie volgens uitkomsgebaseerde onderwys. Spesifieke leerplantemas word aangebied d.m.v. ‘n inleiding, skattejag (ook vir tuisskole), gevolg deur interaktiewe besprekings. Hoewel skoolgroepe die hoofteiken is, kan dit ook benut word vir ‘n verskeidenheid onderwys-werkswinkels en ander verrykingskursusse. Dit bestaan uit drie hoofareas: die ouditorium, die foyer en hoofuitstalsaal en die opelug-area vir tradisionele aktiwiteite.
In die ouditorium word voorsiening gemaak vir visuele en interaktiewe inleidings per leerplantema, terwyl ‘n kaart die skattejag met spesifieke temas in die hoofuitstalsaal fasiliteer. Hier word daar van oorspronklike voorwerpe, replikas, historiese foto’s, hedendaagse visuele materiaal en brokkies inligting gebruik gemaak. Die oorsprong en kulturele verskeidenheid van Suid-Afrika word aan die hand van breë temas soos nasionale simbole, voedsel, kleredrag, nedersetting, en materiale (hout, metaal, leer, gras, klei, keramiek en glas) verduidelik.