Mediaverklaring  

09 Junie 2021

Internasionale toeriste is besig om weer hul pad na die Voortrekkermonument te vind.

Die grootste toergroep sedert Covid-19 se inperkingsmaatreëls ingetree het in 2020, het vandag die monument besoek.

Die groep toeriste van Roemenië se eerste toeristeaantreklikheid wat hulle besoek het, was die Voortrekkermonument, waarna hulle na die Uniegebou vertrek het.

Persone van die VSA, Frankryk en Rusland het onlangs die monument besoek, maar die bus met 35 Roemeniërs is die eerste internasionale toerbus wat in meer as ’n jaar op die terrein aangekom het.

Gerhard Pretorius, woordvoerder van die Voortrekkermonument, sê dit maak ’n mens se hart bly om weer internasionale toeriste te kan ontvang.

“Dit is vir ons ’n wonderlike voorreg om weer persone van die buiteland te ontvang, om hulle te kan leer van ons ryk geskiedenis hier in Suid-Afrika.

“En vir die plaaslike persone, die monument is hier, en as jy in die Kaap sit, ondersteun die monument, word ’n vriend van die monument. Dit is nou meer nodig as ooit dat mense monumente, geskiedenis en kultuur ondersteun,” sê Pretorius.

Die groep toeriste het onder mekaar geklets en aandagtig geluister na die toergids, Nick Snyman, wat die geskiedenis van die monument en die Groot Trek aan hulle verduidelik het.

Dit was vir die meeste van die persone hulle eerste besoek aan Suid-Afrika en die Voortrekkermonument.

“Ja, dit is my eerste keer hier en dit is ’n pragtige monument. Dit is pragtig om te sien hoe die geskiedenis aan die muur van hierdie monument uitgebeeld word. Ek dink elke keer as mens ’n nuwe land besoek, is dit pragtig om oor die kultuur en die geskiedenis te leer. Dit was ’n wonderlike besoek en ’n wonderlike plek,” sê Alison Barbu.

“Ja, dit is die eerste keer in Pretoria, dit is die eerste keer in Suid-Afrika. Dit is baie indrukwekkend, dit is ’n lang geskiedenis, en wonderlike mense in die algemeen,” sê Dorin Stoicu.

Mense wat die monument wil ondersteun, kan die webwerf www.vtm.org.za besoek en aansluit as ’n vriend van die monument.

Ad
Ad
Ad
Ad