BELEEF
SPORT EN AKTIWITEITE

SPORT

FIETSRY, DRAF EN STAPROETES

VIR DIE AVONTUURTIER IN DIE NATUUR

Laat jou fietswiele spin op die stofpaaie van die Voortrekkermonument se terrein terwyl jy op dieselfde oomblik ’n pragtige uitsig kan geniet. Miskien is jy net lus vir ’n Saterdag-uitstappie in die veld. Dit maak nie saak hoe jy die natuur wil geniet nie, hier is avontuur vir jou!

Van die belangrikste eienskappe van ons bergfietsbaan is soos volg:

Die verskillende opsies maak voorsiening vir die volle spektrum, van basiese beginners tot gevorderde “adrenalienverslaafdes”, met verskillende wegspringplekke om dit nog meer interessant te maak. Verdere roetes sal later vanjaar ontwikkel word.

Dit is geleë in ’n veilige, omheinde natuurreservaat met ‘n wye verskeidenheid fauna en flora, met voldoende, veilige parkering.

Daar is ’n verskeidenheid ander fasiliteite op die terrein wat ook benut kan word. Besoekers kan ook op die terrein stap en draf,  braai op die piekniekterrein en veel meer.

Lede van die geselskap wat nie fiets ry nie, kan intussen die historiese skatte op ons terrein ontdek. Geniet ’n koffie by “Skool op Wielie” en loer gerus in by ons geskenkwinkel.

WALAER

Die Voortrekkermonument is besig met ‘n opwindende nuwe projek om ‘n lewende Laer-uitstalling op te rig. Hierdie uitsalling sal vir die hele gesin ‘n werklike ervaring van die trekkers se lewe in die veld gee. Hou asseblief ons webblad en sosiale media dop vir die bekendstelling van die projek.

AVONTUUR

OPVOEDKUNDIGE TOERE

Kinders leer die beste wanneer hulle sélf ontdek, beleef en lééf.

Bevorder en ontwikkel begrip en waardering vir Suid- Afrika en sy ryk kulturele erfenis.

VERRYK

NAVORSINGSFASILITEITE

ARGIEFDIENSTE

Die argief kan gebruik word vir navorsing vanaf 08:00-16:00 op weeksdae.

Die argiefmateriaal wat hier gehuisves word, bestaan uit dokumentversamelings, foto’s, skaars koerante, argitektekeninge, kaarte en oudiovisuele materiaal. Daar is onder meer argiefversamelings van die Voortrekkermonument wat dateer vanaf 1931-1993 en van die Afrikanerbond wat dateer vanaf 1918-1994. ‘n Uitgebreide versameling foto’s van die Anglo-Boereoorlog is beskikbaar, asook unieke materiaal oor die ontstaan van die Voortrekkermonument.

Fokusareas vir die versameling is die Groot Trek, die Voortrekkermonument, die Anglo-Boereoorlog, Afrikaner-kultuurorganisasies en persoonlike versamelings wat ‘n bydrae lewer tot die kulturele en geskiedkundige aspekte van die Afrikaanssprekende Suid-Afrikaanse samelewing.

Navrae

Zabeth Botha
Tel: 012 325 7885
E-pos:  zabeth@kultuurtuiste.org.za

Kyk gerus ook by die  SP Engelbrect Museum van die Nederduitsch Hervormde Kerk in Afrika  vir argiefmateriaal oor toepaslike onderwerpe.

GENEALOGIESE NAVORSINGSDIENSTE

Die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika se Noord-Transvaaltak huisves sy boekversameling by die Navorsingsentrum. Die lede se maandelikse byeenkomste vind op Saterdae hier plaas en saam met die biblioteek se eie versameling, word ‘n omvattende diens gelewer aan persone wat familiegeskiedenis wil navors.

Webblad:  www.genza.org.za

Navrae

Isabel Groesbeek
Tel:  012 325 7885
Epos: isabel@kultuurtuiste.org.za

BIBLIOTEEK

Die Biblioteek bied:

  • Gerieflike, veilige parkering
  • ‘n Gerieflike en moderne leeskamer met leeshokkies en lugreëling
  • Rekenaars vir naslaanwerk en Internettoegang.
  • Kragpunte vir skootrekenaars vir dié gebruikers wat verkies om hul eie saam te bring.
  • Sluitkassies is beskikbaar om sakke en waardevolle items te bêre.

Die Naslaanbiblioteek word in die nuwe, moderne Erfenissentrum gehuisves en bevat nagenoeg 15 000 bronne wat: boeke, tydskrifte, pamflette, verhandelings en ander elektroniese bronne insluit. Dit sluit ook in die kosbare Hertzog-versameling, en die versameling van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika se Noord-Transvaaltak. Die biblioteek fokus op onderwerpe rondom Suid-Afrikaanse geskiedenis en kultuurgeskiedenis, met inbegrip van die Afrikaanse taal, onderwys, kerkgeskiedenis, geskiedenis van plekke en plekname, militêre geskiedenis en erfenisbewaring. 

Die Groot Trek, Voortrekkermonument, die Anglo-Boereoorlog, Afrikaner-persoonlikhede en familiegeskiedenis maak deel uit van die gespesialiseerde fokus. Familienavorsing word al hoe gewilder, en die biblioteek blyk ook hier ‘n ryk bron van inligting te wees.

Navrae

Marianne Hennig

Tel: 012 325 7885

E-pos: marianne@kultuurtuiste.org.za

MUSEUMDIENSTE

Die Voortrekkermonument en Natuurreservaat asook die Erfenisstigting is verantwoordelik daarvoor om die museumversameling in sy besit te alle tye museumkundig-eties te dokumenteer, ontsluit, konserveer, na te vors en te interpreteer, hetsy deur uitstallings, publikasies, opgrawings of ander oudiovisuele produkte.

Die museumversameling word selektief uitgebrei deur middel van skenkings, pro-aktiewe insameling, aankope en deur voorwerpe van ander instansies te bruikleen.

Die omvang van die versamelings van die Voortrekkermonument en Natuurreservaat, en die Erfenisstigting:

Voortrekkermonumentmuseum

Versamel en dokumenteer voorwerpe en inligting wat verband hou met:

  • Die Groot Trek-periode (1834-1854)
  • Die Groot Trek-herdenkings
  • Die Voortrekkermonument en sy geskiedenis
  • Kultuurorganisasies en bewegings wat uit die Groot Trek en sy herdenkings ontstaan het

Fort Schanskopmuseum

Versamel en dokumenteer voorwerpe en inligting wat betrekking het op: 

  • Die periode wat strek van die Jameson-inval in, 1897 tot na die afloop van die 1914-rebellie
  • Die militêre geskiedenis van die ZAR tydens die Eerste Vryheidoorlog (1880-1881) en die Tweede Vryheidsoorlog ook bekend as die Anglo-Boereoorlog (1899 – 1902)
  • Die geskiedenis van die Fort van 1897 tot hede