BELEEF DIE
VOORTREKKERMONUMENT

 

VOORTREKKERMONUMENT

DIE VOORTREKKERMONUMENT

Die Voortrekkermonument is ’n baken van hoop vir Afrikaners. Die groot, grys granietkolos is uit alle rigtings sigbaar as Pretoria genader word. Hierdie massiewe monument is gebou ter ere van die Voortrekkers wat die Kaapkolonie tussen 1835 en 1854 in hulle duisende verlaat het.  Die argitek was Gerard Moerdijk en dit was sy ideaal om ‘n monument te ontwerp wat as ‘n “gedenkteken duisend jaar en langer moet staan om aan die nageslagte die geskiedenis en betekenis van die Groot Trek te verduidelik.”

Die Vrou en kinderbeeld voor die monument simboliseer die deelname en rol wat vroue en kinders gedurende die Groot Trek gespeel het. Hierdie beeld is deur die bekende beeldhouer, Anton van Wouw, ontwerp. Verder is die monument omring met ’n muur waarop ossewaens gegraveer is. Hierdie ossewaens verteenwoordig die laer wat by Bloedrivier getrek is. Die laermuur bestaan uit 64 waens en elke wa is 4.6 meter lank en 2.7 meter hoog. Die laermuur verteenwoordig simboliese beskerming van die monument.

Afgesien van die massiewe grootte van die monument, is daar veral twee elemente wat hierdie monument besienswaardig maak: die historiese fries en die senotaaf. Binne die monument is daar ook ‘n museum wat die storie van die Afrikaner verder vertel.

Lees meer oor die geskiedenis van die Voortrekkermonument met al sy historiese besienswaardighede, klik hier.

TAPISSERIEË

In Mei 1952 het mev. Nellie Kruger daaraan gedink om ’n reeks historiese tapisserieë vir die Voortrekkermonument te maak wat die vrou se rol in die geskiedenis van die Groot Trek (1835-1854) beklemtoon. Die voorstel is tydens die jaarvergadering van die Vrou-en-Moederbeweging van die ATKV aanvaar.

W.H. Coetzer het die panele op dubbelgeweefde tapisseriegaas geskilder en historikus, dr. G.D. Scholtz, het hom van raad bedien t.o.v. die historiese korrektheid van die uitbeeldings.

’n Verskeidenheid van 130 kleure wol is gebruik en die reeks bestaan uit 3 353 600 naaldwerksteke. Nege vroue het die panele binne agt jaar voltooi.

LAASWA

’n Oorspronklike kakebeenwa wat uit die Groot Trek behoue gebly het, staan nou in die Senotaafsaal van die Voortrekkermonument. Hierdie ossewa is die tweede oudste ossewa in die land en die oudste in Transvaal. Hierdie wa het behoort aan Andries Marthinus Laas en sy vrou Sara. Die wa het die hele Groot Trek oorleef en was ook een van die 64 waens by Bloedrivier. Na die Groot Trek is die wa by Amersfoort Laerskool vir 83 jaar versorg. Die FAK het in samewerking met die Laas-familie en Barend Uys ‘n proses gefasiliteer om hierdie kosbare ossewa in die sorg van die Voortrekkermonument te plaas.

DIE NAGMAALWA

Mnr. S.P. (Fanie) Botha het saam met sy pa op die plaas Rietspruit geboer en het dié wa laat maak met die oog op die Simboliese Ossewatrek van 1938. Die wa het deelgeneem aan die 1938-Eeufeesvieringe in Heidelberg en is later hoofsaaklik tydens Geloftefeeste gebruik.

Gedurende die laat 1960’s is die wa aan die Normaalkollege Pretoria (NKP) geskenk waar dit in die ingangsportaal van die kollege gestaan het. Na die verskuiwing van die kollege is die wa, na vele omswerwinge, aan die Voortrekkermonument geskenk. Die wa is in 2003 deur Erik Holm gerestoureer en die tradisionele skilderwerk is deur Elsabé Holm gedoen.

Die Voortrekkermonument beskik oor ’n versameling historiese ossewaens wat op die terrein uitgestal word.

FORT SCHANSKOP

Na die Jameson-inval in 1896 het pres. Paul Kruger van die Zuid-Afrikaansche Republiek besluit om Pretoria te verdedig deur forte op strategiese plekke te laat bou.  Aanvanklik sou agt forte gebou word, maar weens ‘n tekort aan fondse is slegs vier voltooi. Drie van die vier, waaronder Schanskop, is deur Duitsers ontwerp.

Lees meer oor Fort Schanskop en die Anglo-Boereoorlog by die geskiedenis-afdeling.

Die Anglo-Boereoorlog-museum kan ook by Fort Schanskop besoek word.

Onthou om ook hier ’n foto by die Danie Theron-beeld of die genl. Piet Joubert borsbeeld te neem. Die replika van die Tanganjika-monument kan ook hier gesien word.

DANIE THERON-STANDBEELD

Die beeld kyk in die rigting van Gatsrand tussen Potchefstroom en Johannesburg, waar Danie Theron op 5 September 1900 gesneuwel het. Theron is begraven op die plek waar hy gesneuwel, maar is later langs sy verloofde Hannie Neethling ten suide van Johannesburg herbegrawe.

GENL. PIET JOUBERT-BORSBEELD

Sedert 13 Desember 1880 was kommandant-generaal Piet Joubert in beheer van die  Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) se verdediging. Hy sal onthou word vir sy deelname aan die Slag van Majuba op 27 Februarie 1881 gedurende die Eerste Vryheidsoorlog (1880-1881). Hy sal ook onthou word vir sy rol as voorsitter van die ZAR se Forteboukommissie wat toesig moes hou oor die oprigting van vier forte om Pretoria, naamlik Fort Schanskop, Fort Klapperkop, Fort Wonderboompoort en Fort Daspoortrand. 

REPLIKA VAN TANGANJIKA-MONUMENT

Hierdie is ‘n skaalmodel-replika van die  Trek-monument  wat op 16 Desember 1954 in Ta-zanië (voorheen bekend as Tanganjika) onthul is. Die  Trekmonument  (1904-1954) is o-gerig ter viering van die vyftigste herdenking van die eerste Afrikaners wat hulleself na afloop van die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) in die voormalige Tanganjika gevestig het. 

1938-KLIPSTAPEL

Tydens die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument in 1938 is duisende klippe deur feesgangers van oral uit die land na dié terrein gebring. Die klipstapeling het van 13 tot 16 Desember 1938 geduur. Feesgangers het ook klippe van hierdie Erfenisterrein gebruik.

Die sekretaris van die Sentrale Volksmonumentkomitee het verklaar dat die klipstapel tot in die verre toekoms sou dien as bewys dat die Afrikaners van 1938 die geestelike en stoflike erfenis wat in 1838 aan hulle nagelaat is, waardeer en dat hulle onderneem om die erfenis onbeskadig vir die Afrikaners van 2038 te behou. Die klipstapel moes dien as simbool van die vurige verlange na volkseenheid.

Die hoofdoel van die klipstapeling was om op hierdie spesifieke plek ‘n model van die Geloftekerk (Pietermaritzburg) te bou. Die klipstapeling het dus op ‘n sementvloer plaasgevind met ‘n ringmuur daaromheen, wat op 22 November 1938 geopen is. Die klipstapel is toegemessel, maar die plan om ‘n model van die Geloftekerk te bou, het nooit gerealiseer nie.

PIET RETIEF-GEDENKNAALD

Argiteksfirma:Meiring, Naudé, Lötter en Botha
Voltooi: 14 April 1971

Hierdie granietgedenknaald verteenwoordig die naald wat in 1922 by Umgungundlovu (KwaZulu-Natal) opgerig is om die plek aan te dui waar Piet Retief en 70 van sy medetrekkers op 6 Februarie 1838 in opdrag van die Zoeloekoning, Dingane, vermoor is.

Die Trekkers is in die koninklike kraal, Umgungundlovu, oorval waarna hulle na die koppie genaamd KwaMathiwane, gesleep is. Hulle oorskot is eers op 21 Desember 1838 deur Andries Pretorius en sy kommando gevind en daar begrawe.

SKOOL OP WIELE

Klaskamer gebou vir ‘n treinspoor

Die Skool op Wiele is in 1923 deur mnr. W.A. Joubert gebou. Dit was op versoek van mnr. J.H. Coetzee, die skoolraadsekretaris van Ermelo. Die klaskamer op wiele moes dien as oplossing vir die gedurige tekort aan klaskamerakkommodasie. Teen die einde van elke skooljaar het al die omliggende skooltjies se st. 6-leerlinge altyd op Ermelo kom eindeksamen skryf, en is dié klaskamer ook daarvoor gebruik. Die Skool op Wiele het sitplek vir 22 skoolkinders, asook ‘n lessenaar en stoel vir ‘n onderwyser.

Die onderstel is dié van ‘n ou stoom-dorsmasjien. Die skool is deur ‘n span van 16 osse getrek. As gevolg van die smal spoorwydte, moes helpers altyd ook langs die skool loop om dit met behulp van toue te help balanseer.

In die vroeë 1960’s is die skool na die Transvaalse Onderwysmuseum in Pretoria verskuif waar dit jare lank in Skinnerstraat agter die Mediasentrum gestaan het. Op 7 November 2004 is die Skool op Wiele na die Voortrekkermonument Erfenisterrein oorgeplaas, waarna dit gerestoureer is.

Kom drink gerus ’n koffie by ons eie Skool op Wiele Koffiehuis in die verbygang.

SAW-MUUR

Herdenkingsmuur vir SAW-lede

Agtergrond

Die Direksie van die Voortrekkermonument Erfenisterrein het in 2009 goedkeuring verleen dat ‘n SAW Muur van Herinnering op die VTM Erfenisterrein opgerig kan word ter ere van lede van die SA Weermag wat aan diens gesterf het.

Die Muur is op 25 Oktober 2009 ingewy en meer as 1 000 persone het die geleentheid bygewoon. Bykans 100 kranse en kruise is tydens die inwydingsplegtigheid gelê/geplant.

Daar was tot dusver 2 489 name op die Muur van Herinnering.  ’n Verdere 27 name is onlangs bygevoeg van SAW-lede wat gedurende die  tydperk 1961-1994 onder kwalifiserende omstandighede gesterf het.

Sedert die inwyding van die Muur is die VTM oorval met komplimente oor die voorkoms van die Muur van Herinnering en wat daarmee gepaardgaan, asook die verloop van die inwydingsplegtigheid.

Die feit dat die Muur só sigbaar, bereikbaar en toeganklik is vir alle besoekers aan die VTM Erfenisterrein, en in ‘n beveiligde gebied geleë is, hou voordele in wat dit bo enige ander soortgelyke Muur in Suid-Afrika laat uitstaan. Dit is derhalwe nie vreemd dat al hoe meer militêre eenhede en organisasies  toenemend dit verkies as die standplaas vir hul eie herdenkingsdienste nie.

GEDENKTUIN

Soek jy ’n spesiale ewige rusplek vir jouself en jou geliefdes? Die nistuin by die Voortrekkermonument bied dan die perfekte plek. Daar is verskeie pakkette beskikbaar.  

Die naasbestaandes van die persone wat ’n nissie in die gedenktuin het, ontvang gratis toegang tot die terrein.  

Navrae kan gerig word aan roelien@kultuurtuiste.org.za

DIE ZOELOEHUT

Stel jou Dingane se stad voor

Dié medium-grootte Zoeloehut is ‘n replika van die hutte wat tydens die herkonstruksie van ‘n gedeelte van die koninklike hoofstad Umgungundlovu in die 1980’s opgerig is. Koning Dingane het die hoofstad tydens sy regeringstydperk (1828-1840) laat bou. Dié hut is tipies van die wonings wat in die destydse Zoeloeland aangetref is en tradisioneel deur mans gebou is.

Kenmerkend van die tradisionele  indlu  (hut), is die byekorfstyl waarin dit gebou is. Die raamwerk bestaan uit jong boompies wat in ‘n sirkel in die grond ingeplant is, inwaarts gebuig en aan mekaar vasgemaak is. Na voltooiing van die raamwerk, is die hut met dekgras bedek. Die hutvloer is van ‘n mengsel van miershoopklei en beesmis gemaak, waarna dit met beesvet gesmeer is.

Bouers uit KwaZulu-Natal

Latwerk:  John Mbatha & Zeph Sibiya

Dekwerk en vloer: Francisca Msimango & Ntombi Ngema

NATUURRESERVAAT

Mnr. Danie Hough, administrateur van Transvaal, het op 14 Julie 1992 aangekondig dat 341 hektaar om die monument tot ‘n unieke natuurreservaat geproklameer is. Op Vrydag, 25 Junie 1993, is die eerste wild naamlik sebras en blesbokke, in die natuurreservaat losgelaat.

Die Voortrekkermonument beskik oor unieke natuurlewe op die terrein. Dit bied groot opwinding vir besoekers om die wild te identifiseer. Het jy al ooit gewonder oor die wild by die Voortrekkermonument? Hier is ’n oorsig oor ons huidige wild: 

INLIGTING, REËLS EN REGULASIES

INLIGTING, REËLS EN REGULASIES

  • By aankoms moet besoekers by die hoofingang aanmeld en daarna na inligtingsentrum beweeg.
  • Moet asb. in geen stadium enige steurnis vir ander veroorsaak nie.
  • Wees asb. op die uitkyk vir fietsryers, stappers en hardlopers.
  • Besoekers mag nie handel dryf in die reservaat, tensy toestemming vooraf bekom is nie.
  • Gehoorsaam alle verkeerstekens; onthou dat alle voetgangers en diere voorrang het.
  • Slegs persone in besit van ‘n wettige bestuurslisensie mag in die reservaat bestuur.
  • Geen dier, plant of voël mag gevoer, gesteur of verwyder word nie.
  • Onthou dat onbeheerde brande vernietiging en dood veroorsaak. Moet dus nie brand stig deur agterlosigheid met die hantering van bv. braaivleisvure of sigarette nie.
  • Geen troeteldiere word op die terrein toegelaat nie, maar gidshonde is welkom.
  • Strooi van rommel is streng verbode.

Sou enige boere belangstel om wild aan die monument te skenk, is hulle meer as welkom om die monument te kontak.