’n Eeu en ’n half nadat ongeveer 700 Afrikaners, in 1874, besluit het om die Republiek van Transvaal te verlaat, word hulle spore deur Afrika by die Voortrekkermonument (VTM) herdenk.

Die trekkers het kort ná mekaar besluit om die republiek te verlaat en ’n beter toekoms elders te gaan soek. Hulle het noordweswaarts getrek deur Botswana en Namibië en hulle uiteindelik in die suidweste van Angola gaan vestig.

Die afgelope naweek, 150 jaar na dié Trek plaasgevind het, het die Dorslandtrekvereniging RSA (DTV) dié manne en vroue se belangrike nalatenskap met ’n twee-dae-lange fees by die VTM, saam met direkte afstammelinge van dié trekkers, gevier.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument, sê die lewens van dié manne en vroue vertel ’n inspirerende verhaal en laat mens opnuut besef hoeveel ons voorouers opgeoffer het om vir ons ’n beter toekoms te skep.

“Min mense ken die geskiedenis van Gert Alberts en sy trekgeselskap wat in 1874 noordwaarts deur Botswana tot in Angola getrek het,” vertel Langner.

“Dit is ’n inspirerende verhaal van toekomshoop, vorentoe beur, waagmoed, trane en lyding met ’n sug na vryheid as dryfkrag.”

Saam met die Groot Trek en die Brits-Oos-Afrika trek is die Dorslandtrek een van Afrikaners se drie groot vryheidstrekke, het Langner voorts verduidelik.

“Dit is vir die Voortrekkermonument ’n voorreg om dié geskiedenis ook te mag bewaar en ons het goeie planne hoe om dit binnekort beter te vertel.”

Prof. Pieter Kok, voorsitter van die DTV, is dit met Langner eens dat hierdie inspirerende geskiedenis bewaar moet word.

“Die afgelope naweek het ongeveer 80 afstammelinge van die Dorslandtrekkers saam met die DTV gekuier om hulde te bring aan die helde uit ons verlede,” sê hy.

“In 2012 het ’n reünie van die Dorslandtrekvereniging op die VTM-terrein plaasgevind waar ons uiteindelik besluit het om die DTV RSA te stig. Ons het ’n historiese verbintenis met die monument wat oor jare strek en daarom het ons uiteindelik besluit om ’n gedenkteken vir die Dorslandtrekkers hiér op te rig. Ons is trots daarop om dié fees vanjaar ook met die VTM te kon deel.”

Tydens die funksie het Kok en die ander besoekers 150 duiwe vrygelaat en ’n pragtige kranslegging gehou, ’n Dorslandtrekvlag, ontwerp deur die bestuur van die vereniging en gemaak deur Mariana du Plessis, onthul én drie geelhoutbome geplant ter nagedagtenis van dié trekkers.

Oom Danie Opperman, wat vanjaar 100 jaar oud word, is die laaste oorlewende van die groep Dorslandtrekkers wat in die dertigs uit Angola na Namibië gebring is en het vir die geleentheid ook ’n aangrypende stemboodskap gestuur.

“Die geskiedenis van die Afrikaner is deurweef met ‘trekke’. Elk van dié trekke het ’n spesifieke betekenis gehad vir die Afrikaner en daarom is dit belangrik om die opofferings van hierdie mense te vier én steeds te eer,” vertel Opperman.

As direkte afstammeling van Gert Alberts, die leier van die eerste Dorslandtrek, het Kok verder verduidelik, is dit vir hom belangrik om te weet dat die opofferings van sy en ander se voorouers steeds geëer word.

“Ek is in Angola gebore en het later eers Suid-Afrika toe getrek en ek beskou my lewe van vryheid in dié land as ’n bydrae wat my voorouers gemaak het, daarom is dit vir my ’n riem onder die hart om te sien dat hul nalatenskap steeds gevier word.”

Dr. Nicol Stassen en genl. Gert Opperman het vanjaar ook oorkondes ontvang van die DTV vir die bydrae wat hulle afsonderlik gelewer het om die geskiedenis van die Dorslandtrek te bewaar en uit te bou. Kok het beide oorkondes oorhandig en sê dit was vir hom ’n reusevoorreg om op dié manier ook hulde te bring aan diegene wat ons geskiedenis lewend hou.

Opperman, wat vir jare lank gedien het as die besturende direkteur van die Erfenisstigting het sy oorkonde ontvang vir sy deurlopende bydrae en belangstelling in die Dorslandtrek.

“In 2011 was dit genl. Opperman wat die spreekwoordelike saadjie geplant het vir die oprigting van ’n monument ter nagedagtenis aan die Dorslandtrekkers en daarom was dit vir die DTV ’n groot voorreg om hom vanjaar te kon vereer vir sy ongelooflike bydrae tot die bewaring van ons erfenis,” sê Kok.

Nicol Stassen is bekend as historikus en word veral gerespekteer vir sy skryfwerk oor die Dorslandtrek en daarom het die DTV besluit om hom ook vanjaar te vereer.

“Dr. Stassen word algemeen beskou as die wêreldkundige oor die Dorslandtrek. Hy het met deeglike navorsing die geskiedenis van die Dorslandtrek uit verskeie boeke opgeteken. Deur sy werk is die geskiedenis van die Dorslandtrek verewig vir toekomende geslagte.”

Kok het afgesluit met ’n boodskap van hoop: “Ons is nie net hier om hulde te bring aan ons voorouers nie, maar ons kultuurwortels te hervestig. Dit is ons wat ons erfenis moet bewaar en uitbou en om te sien dat mense soos elke besoeker dié naweek en ons eregaste, dr. Stassen, genl. Opperman en dr. Langner, steeds hul liefde vir ons erfenis uitleef, gee mens werklik hoop vir die toekoms.”