PIONIERSWERF

PIONIERSWERF

Die Pionierswerf bied aan jonk én oud die geleentheid om tradisionele Afrikaner-kultuuraktiwiteite op ’n opwindende, interaktiewe manier te kom beleef!

Híér bied ons pasgemaakte, opvoedkundige programme op ’n daaglikse basis aan vir besoekende skoolgroepe, asook verrykende, begeleide toere vir gesinne en ander plaaslike, sowel as internasionale toeriste.

Die Pionierswerf bestaan uit die Lewende Laer, waar tradisionele Voortrekkeraktiwiteite interaktief binne ‘n ossewalaer geïllustreer word, die Plaaswerf, met sy oulike werfdiere wat vertroetel en gevoer kan word, en die Pioniersentrum.

LEWENDE LAER

Die Lewende Laer bied aan besoekers ’n unieke kulturele ervaring deur ’n blik te verskaf op hoe ’n dag in die lewe van die Voortrekkers binne ’n tradisionele ossewalaer gelyk het.

Tradisionele moerkoffie en melktert oor die vuur, potjiekos, handgekarringde botter, die giet van geweerkoeëls en ander ystersmeewerk, sweepslaan, en meer!

Híér maak ons die geskiedenis lewendig!

Maak hierdie ervaring selfs méér spesiaal en bespreek jou plek om in een van die ossewaens te kom oornag!

Stuur gerus ‘n e-pos aan besprekings@kultuurtuiste.org.za

PLAASWERF

Híér by die Pionierswerf het ons ’n spogplaas met Boerperde, Shetland-ponies, varke, dwergbokkies, Dorper-skape, en verskeie pluimvee.

Bring gerus die jongspan en kom ontmoet ons pragtige werfdiertjies!

By die Plaaswerf vertel ons graag vir al ons besoekende maatjies ’n bietjie meer oor ons diere en hoe om vir hulle te sorg, en hulle kry dan ook die geleentheid om hulle te voer en te vertroetel.

PIONIERSENTRUM

Die Pioniersentrum is ’n interaktiewe ontdekkingsentrum en ’n skatkis van waardevolle bykomende bronne tot die huidige KABV-uitkomsgebaseerde leerplantemas wat in Suid-Afrikaanse skole aangebied word.

Daar word van oorspronklike voorwerpe, replikas, historiese foto’s, hedendaagse visuele materiaal en brokkies inligting gebruik gemaak om opvoedkundige temas op ’n kreatiewe manier vir opvoeders en leerders aan te bied.

Híér kan jy ook leer hoe om ’n kleibaksteen te maak waarmee die Voortrekkers hul huise gebou het, brood bak op die pioniersmanier, of kom sweepslaan soos die ware Voortrekkers van ouds!

Die Pioniersentrum huisves ook ’n permanente modeltrein-uitstalling, wat op 22 September 2022 bekendgestel is. Dié uitstalling, wat in samewerking met die Noord-Transvaalse (NTVL) Modeltreinklub ontwikkel is, skep ’n nuwe geleentheid vir die monument om nie net ons ryk kulturele erfenis te vier nie, maar in die proses die jeug van Suid-Afrika te inspireer om dieselfde te doen.

Die Modeltreinklub is in 1949 gestig, in dieselfde jaar as wat die Voortrekkermonument geopen is. Dié klub het hulle by die VTM kom vestig om hul liefde vir modeltreine en die geskiedenis van Suid-Afrikaanse spoorweë hier te laat voortleef.

Kom maak gerus ’n draai by hierdie pragtige uitstalling!

ANDER AKTIWITEITE, PROGRAMME EN PAKKETTE

By die Pionierswerf is daar nie ‘n tekort aan pret en opwinding nie! Loer gerus bietjie na al die wonderlike aktiwiteite, programme en pakkette wat ook hier aangebied en deur gesinne, vriendegroepe en Voortrekkerspanne bespreek kan word.

PERDERITTE

Die Pionierswerf bied opwindende perderitte op ‘n daaglikse basis aan!

Besoekers wat al meer as een keer hierdie geleentheid aangegryp het, kan nie uitgepraat raak oor die unieke perspektief wat hulle keer op keer van die indrukkendwekkende monument en prentjiemooi natuurreservaat kry nie!

Kostes: R200 per volwassene | R100 per kind onder 18 jaar
Tydsduur van ritte: Een uur

Let wel: Ons gidse kan ’n maksimum van vier gaste op ’n slag akkommodeer, en besprekings móét asseblief vooraf gemaak word by besprekings@kultuurtuiste.org.za

Maak gerus hierdie unieke ervaring deel van jóú móét-doen-lysie en bespreek sommer vandág nog jou plek!

Geeneen van hierdie ritte sou enigsins moontlik gewees het as dit nie was vir die ruimhartige skenking van hierdie Boerperde wat ons van ons vriende by Mooikrans Opleiding ontvang het nie!

Mooikrans Opleiding, ‘n landbou-opleidingsinstituut in Mpumalanga, het in 2022 ‘n skenking van vyf pragtige Boerperde aan die Voortrekkermonument gemaak wat ons in staat stel om hierdie heerlike ritte te kan aanbied!

Mooikrans bied kwalifikasies in landbou, perde-ondersteundende terapie en perdewetenskappe aan. Besoek gerus hulle webwerf by www.mooikrans.co.za om meer uit te vind!

VAKANSIEPROGRAMME

Wonder jy dikwels voor die aanvang van elke skoolvakansie hoe jý jóú woelwaters gaan besig hou?

Hoekom bring jy hulle nie Pionierswerf toe om deel te neem aan ons prettige vakansieprogramme nie?

Die Pionierswerf bied opwindende pionierspret-aktiwiteite gedurende elke skoolvakansie aan!

Elkeen van hierdie programme bied aan ons maatjies die geleentheid om lekker te speel, baie te lag en te leer oor ons wonderlike Afrikanerkultuur en -erfenis!

Aktiwiteite waarna die jongspan kan uitsien:

  • Boeresportpret
  • Maak jou eie stokbrood
  • Krygsgevangenekuns
  • Leer oor en voer ons oulike plaasdiertjies
  • Perderitte
  • Begeleide staptoere deur die VTM-natuurreservaat
  • Maak jou eie kleios en ossewa
  • Boerespioenasie
  • Laserskietgeveg

PARTYTJIE-PAKKET

Maak jou kind se volgende verjaardag ’n onvergeetlike een by die Pionierswerf met ons opwindende kinderpartytjie-pakket!

Hierdie aanbod sluit die verskaffing van twee staaltafels en 15 plastiekstoele in wat na willekeur versier kan word, en ook ’n opwindende aktiwiteit waaruit gekies kan word, soos perderitte, die voer van ons oulike plaasdiertjies of ’n laserskietgeveg.

Daar is twee tydgleuwe beskikbaar om uit te kies:

09:00 tot 12:00 en 13:00 tot 16:00 – Maandae tot Sondae.

Let wel: Daar sal ‘n 30-minute tydgleuf voor en na die partytjie aan ouers toegelaat word om op en af te slaan.

TRADISIONELE SPELE

Bring gerus die gesin of jou vriendekring en kom daag mekaar bietjie uit in ’n heerlike potjie Jukskei!

Die Pionierswerf het drie pragtige jukskeibane wat beskikbaar is vir gebruik deur die publiek, asook die aanbied van kompetisies.

Kostes: R50 per volwassene | R30 per kind onder 18 jaar

Let wel: Die monument voorsien ongelukkig geen skeie op hierdie stadium aan belangstellendes wat wil speel nie, so bring asseblief u eie skeie saam.

VOORTREKKERS

Die Voortrekkermonument bied aan Voortrekkerspanne en -kommandos die geleentheid om kampe, kentekens en spesialisasies by die Pionierswerf te kom aanbied.

Voortrekkeroffisiere kan ons gerus kontak vir ’n volledige lys van kentekens wat hier aangebied kan word.

Die Pionierswerf-personeel beskik ook oor die nodige kundigheid op sekere van die vakgebiede om hulp te kan verleen met die aanbieding van dié spesifieke kentekens, so vra ons ook gerus híéroor.

 

Ons het ook verskeie fasiliteite wat beskikbaar is vir verhuring, en toerusting en etes kan ook bespreek word vir elke geleentheid teen ’n addisionele koste.

Die totale koste sal na gelang van die groep se behoeftes bepaal word.

Buiten vir die beskikbare kundigheid en fasiliteite, is daar ook kampplek op die terrein beskikbaar vir diegene wat ver moet reis, of wat vir ’n naweek op die terrein wil aanbly om kentekens wat dalk langer vat, aan te bied.

Vir enige navrae oor ons pasgemaakte opvoedkundige programme, beskikbare pakkette en ander opwindende aktiwiteite by die Pionierswerf, stuur gerus vir ons ‘n e-pos. Klik op die skakel hieronder.