SPORT EN LEEFSTYL

SPORT EN LEEFSTYL

Behalwe vir die ryk geskiedenis, is die Voortrekkermonument ook ’n plek van ontspanning. Dit is die ideale plek om te kom piekniek hou, braai, draf, stap en fietsry.

Híér is drawwers, stappers en fietsryers nie net gewaarborg van ’n heerlike oefensessie nie, maar ook asemrowende uitsigte binne ons veilige, omheinde natuurreservaat.

Fasiliteite soos Stokkiesdraai, die FAK-Liedjietuin en Blinkvosperd-lapa, is ook beskikbaar vir verhuring om ‘n luilekker dag rondom die braaivleisvuur saam met vriende en familie aan die voet van die indrukwekkende monument te kom spandeer!

SPORTAKTIWITEITE

Die Voortrekkermonument beskik tans oor:

  • Twee grondpad-staproetes – ’n 5 km-roete, wat ideaal is vir die hele gesin en stappers van alle ouderdomme, en ook ’n 6 km-roete, wat ’n baie meer uitdagende roete is.

  • Vier teerpad-staproetes – ’n 2 km-, 5 km-, 10 km- en 15 km-roete.

  • Vyf bergfietsroetes van 5 km elk – Elke roete het sy eie karakter en uitdagings. Ons bergfietsroetes is van uitstekende, internasionale gehalte en word weekliks met passie en trots deur ons onderhoudspersoneel in stand gehou.

Ons bied verskeie pakketopsies aan vir elke draf-, stap- en fietsrygeesdriftige wat op ’n meer gereelde basis ons onderskeie roetes wil kom aandurf.

Loer gerus na ons beskikbare sportpakkette en kontak ons vandág nog!

Parkrun is weer terug by die Voortrekkermonument!

Bring die hele gesin en kom geniet ‘n verfrissende oggenddraffie, Saterdagoggende tussen 08:00 en 10:00. Geen registrasie- of parkeerfooie is betaalbaar vir deelname aan Parkrun nie! Klik hier vir meer inligting.

Verskeie ander pretlope, wedrenne en bergfietstydtoetse word ook regdeur die jaar op ons pragtige terrein aangebied.

Hou gerus ons sosialemediaplatvorms dop vir alle opkomende geleenthede waarvoor jy ook kan registreer en aan deelneem!

ONTSPANNING

Kom maak gerus ’n draai by een van die Voortrekkermonument se twee restaurante, Uitspan en Skool op Wiele, vir smullekker peuselhappies, vinnig voorbereide, ligte etes, en iets om die dors te les.

Sarel Kuiken Speelskool, geleë langs Skool op Wiele, bied ook ’n heerlike speelarea vir die kleintjies met ’n klim-en-klouterbaan, skopfietsies en ander speelgoed.

Na ’n vingerlek-lekker ete by Skool op Wiele, kan julle mekaar dan sommer uitdaag in een van die opwindende bordspeletjies wat ook beskikbaar is!

Is julle dalk lus vir ’n rustige potjie skaak in ons pragtige Historiese Trekroetetuin? Kom maak gerus ’n draai by Skool op Wiele en ons leen vir julle ’n skaakstel.

Vir enige ander navrae oor ons sportpakkette, restaurante en ontspanningsfasiliteite, stuur gerus vir ons ‘n e-pos. Klik op die skakel hieronder.