ONTDEK JOU ERFENIS

ONTDEK JOU ERFENIS

In 1835 het duisende mense die destydse Kaapkolonie met al hul besittings verlaat op soek na vryheid om ’n eie toekoms te skep. ’n Toekoms waarin hulle vry kon wees om te lewe volgens hul siening van hul lewe en toekoms.

Die Voortrekkermonument is die simboliese inkleding en uitleg van hul reis wat geweef is met idealisme, moed, deursettingsvermoë, vindingrykheid en hoop … vir vryheid. Die Voortrekkermonument is daarom ’n simbool van ’n vryheidsideaal.

Derduisende plaaslike en internasionale toeriste besoek jaarliks die Voortrekkermonument waar hulle die geleentheid kry om saam op hierdie vryheidsreis te gaan en meer te leer oor óns as Afrikaners se storie in Afrika, van die Groot Trek tot die Anglo-Boereoorlog, en meer.

Dis ook híér waar Afrikaners, jonk én oud, weer opnuut hul erfenis kan herontdek deur dieper te delf in ons storie van ’n toekomsvisie om vandag te kan wees waar ons is.

Koop vandág nog jou kaartjie, en kom vier jóú unieke Afrikanererfenis by die Kultuurtuiste van die Afrikaner!

BINNE DIE MONUMENT

HELDESAAL

Die Heldesaal is die eerste vertrek wat besoekers betree wanneer hulle deur die monument se voordeur stap. Teen die mure van die Heldesaal word die verhaal van die Groot Trek kloksgewys deur 27 marmerfriespanele uitgebeeld.

Dit is die langste aaneenlopende friespanele ter wêreld.

Híér kan besoekers ook meer leer oor die simboliek agter die wyer wordende sirkelpatrone waarmee die Heldesaal se marmervloer bedek is, asook die twee merkwaardige koepels bokant die Heldesaal.

SENOTAAFSAAL

Soos wat jy by die trappe aan weerskante van die Heldesaal afgaan, bereik jy die Senotaafsaal.

Met die senotaaf in die middel, staan jy in ’n massiewe vertrek, omring met skilderye wat verder vertel van die dag-tot-dag lewe van die Trekkers.

Die senotaaf is die sentrale fokuspunt van die monument.

Duisende Afrikaners kom jaarliks op 16 Desember in en om die monument byeen om die Gelofte te herdenk en te aanskou hoe ’n sonstraal presies om 12:00 deur die opening in die boonste koepel van die monument skyn en op die middel van die senotaaf val om die woorde, “Ons vir jou, Suid-Afrika”, te verlig.

Jý kan óók deel wees van hierdie ongelooflike belewenis! Maak seker jy loop nie Geloftedag 2024 mis nie!

Hou gerus ons webblad en sosialemediaskakels dop vir 2024 se Gelofteweek-program.

Kom leer meer oor die betekenis van die senotaaf en die simboliek agter die sonstraal.

Kom delf dieper in die geskiedenis oor die Johanna van der Merwe- en Laas-wa, en ontmoet vir Grietjie, die kanon wat tydens die Slag van Bloedrivier gebruik is.

Kom beleef die pragtige Gelofte-loodglaspaneel en kunswerke deur WH Coetzer, soos die Trek oor die Drakensberg en die Voortrekkerlewe-tapisserieë.

Kom besigtig die unieke volkskuns en besittings van die Voortrekkers wat jare na die Groot Trek steeds behoue gebly het en nou híér in die Senotaafsaal uitgestal word.

KUNDRAMUS-KUNSGALERY

Kom aanskou ook die prag van die KUNDRAMUS-kunsgalery, waar verskeie skilderye en beeldhouwerke van wêreldbekende kunstenaars in die Senotaafsaal uitgestal en te koop aangebied word.

Vir meer inligting oor dié uitstalling, stuur gerus ‘n e-pos aan Marize Möller by marizemoller@kultuurtuiste.org.za

VRIJHEIDSREIS-MUSEUMUITSTALLING

Vanuit die Senotaafsaal kan besoekers dan na die onderste vloer van die monument beweeg waar ons pragtige Vrijheidsreis-museumuitstalling ten toon gestel word.

Die Vrijheidsreis-museum neem jonk en oud op ’n interaktiewe speel-en-leer-reis vanaf die Groot Trek regdeur tot by die republiekwording van Suid-Afrika en die bou van die Voortrekkermonument.

Hierdie unieke, oudiovisuele uitstalling bevat geskiedkundige artefakte wat dateer uit die Groot Trek, kleimakette wat tonele uit die Groot Trek voorstel, tapisserie-kunswerke, skilderye en vele meer.

Kom kyk na die magdom skatte wat ten toon gestel word, soos Sarel Cilliers se broek en ’n oorspronklike afskrif van die Retief-Dingaan-traktaat, en maak ’n draai in die Moerdijk-saal waar jy meer kan leer oor die geskiedenis van die ontwerp, bou en inhuldiging van die Voortrekkermonument.

DELF DIEPER

Wil jy meer weet oor die geskiedenis van die honderde voorwerpe, besienswaardighede, artefakte en uitstallings wat in en rondom die monument gesien kan word?

Bestel vandág nog jóú uitgawe van die Voortrekkermonument (VTM)-gids en delf dieper in ons ryk Afrikanergeskiedenis!

Die VTM-gids bevat meer as ’n duisend pragfoto’s en interessante feite oor die Voortrekkermonument, en neem lesers op ’n interaktiewe reis, met onder meer QR-kodes wat besoekers in staat stel om na videobeeldmateriaal te kyk en na klanke te luister terwyl hulle deur die monument stap.

Kontak vir Marike Prins by besprekings@kultuurtuiste.org.za om jóú VTM-gids te bestel, of besoek die monument en kry jou kopie by Ontvangs teen slegs R300 per gids.

RES VAN DIE TERREIN

Met ’n magdom besienswaardighede, gedenktekens en geriewe wat elders op die terrein ook besoek kan word, is een ding seker … jou erfenis-ontdekkingsreis is beslis nie verby sodra jou toer deur die monument tot ’n einde kom nie!

Loer bietjie na die terreinkaart wat jy by Ontvangs gekry het of laai hom hier af.

Besoek dan gerus ook die volgende punte op die terrein om meer te leer oor ons ryk Afrikanererfenis:

Dorslandtrek-gedenkteken

SAW-soldate-gedenkmuur

Getemde Vryheid-beeld

1938-klipstapel

HISTORIESE TREKROETETUIN

Die Historiese Trekroetetuin is ’n moderne, interaktiewe speel-en-leer buiteluguitstalling waar jonk en oud kan kom litte losmaak en leer van die Groot Trek en die geskiedenis van die Voortrekkers.

Die tuin, wat die verhaal van die Groot Trek op kleinskaal uitbeeld, bevat replikas van verskeie monumente wat historiese gebeure regoor Suid-Afrika herdenk.

Saam met die replikas, is daar ook borde met gedigte op aangebring. Hierdie gedigte vat die ervaring van die Groot Trek op ’n treffende wyse saam, deur liries na te dink oor die rol wat die ossewaens, die Bybel, die kinders en die Gelofte gedurende die Groot Trek gespeel het.

Trek jou vellies aan en kom stap in die spore van vyf Voortrekkerleiers – Louis Tregardt, Hendrik Potgieter, Gerrit Maritz, Piet Retief en Piet Uys.

Vind jou weg kaalvoet oor die Drakensberg saam met Susanna Smit. Volg die roete van die Voortrekkers tot in Pietermaritzburg om die Geloftekerk te besigtig. Staan stil waar Dirkie Uys by die Slag van Italeni in Zoeloeland sy gewonde pa verdedig het en sien waar Piet Retief en sy manskappe by uMgungundlovu vermoor is.

Trap in die spore van Shawu, een van die Krugerwildtuin se groot sewe-olifante waar hy sy regmatige plek hier by die “plek van die olifante” inneem.