RESTAURANTE EN WINKELS

RESTAURANTE EN WINKELS

RESTAURANTE

Skool op Wiele Restaurant

Kom kuier saam by die Voortrekkermonument se eie skoolkombuis – nou met ’n vars nuwe baadjie!

Skool op Wiele Restaurant, geleë net oorkant die Voortrekkermonument, het vroeër vanjaar ’n splinternuwe baadjie aangetrek en nooi jou uit op ’n nostalgiese reis terug na die goeie ou skooldae – met ’n moderne kinkel!

Kom smul aan ’n klassieke braaibroodjie, geurige jaffel of sappige hamburger, perfek afgerond met ’n geurige koppie koffie. In die bui vir iets sterker? Ons bied ook ’n verskeidenheid gins en ander alkoholiese drankies aan.

Pousetyd was nog nooit só lekker en stylvol nie!

Uitspan Deli

Daardie geure uit Ouma se kombuis … onthou jy nog?

Kom herleef daardie warm, nostalgiese herinneringe by die geliefde Uitspan Deli – nou ’n gunstelingstop vir fynproewers en families!

Uitspan Deli is perfek geleë aan die voet van die trappe op die Markplein by die Voortrekkermonument.

Hier wag varsgebakte bederfies op jou – van goudbruin roosterkoeke en tradisionele melktert tot geurige peuselhappies en soet snoepgoed wat jou weer soos ’n kind laat voel.

Kom geniet Afrikanergasvryheid soos net ons dit ken – by Uitspan Deli is dit altyd lekker, altyd huislik!

WINKELS

KultuurKafee

Ons aanlyn winkel bied ’n keur van eg Suid-Afrikaanse geure, handgemaakte produkte en geskenke wat die hart van ons erfenis vasvang. Van geurige boeretroos en plaaslekkernye tot unieke geskenkitems – hier kry jy iets besonders.

Kyk ook uit vir van hierdie produkte by ons restaurante op die VTM-terrein – dis plaaslike smaak met trots aangebied!

De Afrikander Handelshuis

De Afrikander Handelshuis

De Afrikander Handelshuis is dié grenslose handelstuiste vir ons gemeenskap. Stories word nie net deur mense oorgedra nie, maar ook deur produkte …

Die naam van De Afrikander Handelshuis is afkomstig van die eerste Afrikaner, Hendrik Biebouw, se woorde in 1707: “Ik ben een Afrikander”. Ons doel is dat alle gemeenskappe tuis voel in ’n handelshuis en dit met betroubaarheid kan assosieer.

In 2017 is die sowat 160m2 winkel by die Voortrekkermonument geopen waar De Afrikander Handelshuis skielik nie net die plaaslike mark nie, maar ook buitelandse toeriste begin bedien het. In 2021 het Handelshuis ’n kleiner konsep winkel in ‘n museum by die Voortrekkermonument oopgemaak.

Die Voriemôl

Die Voortrekkers se eie Afrikaanse kultuurwinkel in Pretoria. Hier sal jy uitstekende diens van ons omgee-personeel kry.

Die eerste Voortrekkerwinkel (depot) is in 1948 in die motorhuis van die Provinsiesekretaris, oom Badie Badenhorst, begin. Tydens die Tweede Wêreldoorlog, van 1939 tot 1945, was dit besonder moeilik om uniforms van oorsee te kry. Die Hoofbestuur het toe besluit dat Die Voortrekkers self verantwoordelikheid moet neem om drag aan sy lede te verskaf, veral omdat die pryse in Suid-Afrika goedkoper was. Met tyd het die verskaffing van Voortrekkerdrag tot ’n voltydse onderneming gegroei.

Vandag spog ons met Die Voriemôl wat pronk as jou eie kultuurwinkel. Ons voldoen aan al Die Voortrekkers se verskillende behoeftes i.t.v. kentekens, klere en kampbenodigdhede.

Ons is ook dié eenstop-geskenkwinkel waar jy oulike produkte, wat wissel van tafelversierings tot ketties, sal vind. Koop gerus aanlyn, ons afleweringsdienste is internasionaal beskikbaar.