Vir jare lank al droom tannie Constance du Plooy om die “wonderwerk van Bloedrivier” in persoon te ervaar en die afgelope week het die amper eeueoue droom waar geword.

Tannie Constance woon in Hermanus en verlede week is sy tydens ’n besoek aan haar seun Cornay en skoondogter Patricia Smit in Vereeniging verras met ’n besoek aan die Bloedrivier-erfenisterrein (BR).

Vir die 91-jarige tannie Constance was een van haar grootste begeertes nog altyd om Bloedrivier te kan besoek en “God se hand” te kom ervaar.

“Dit was nog altyd vir my belangrik om een dag hier op BR te kom kuier en te ervaar hoe God Sy hand oor die trekkers van ouds gehou het deur die vyand in ons hand te gee. Met ons besoek het ons besef hoe belangrik dit is om die Gelofte na te kom en elke jaar te herdenk, sodat ons nie weer in die vyand se hand moet val nie,” sê Du Plooy.

“Hier het ek opnuut besef als wat ons bereik het, is deur God se genade en mag ons nooit dít vergeet nie.”

Tannie Constance se familiegeskiedenis strek self so ver as die Groot Trek met haar Oupa van Rheenen wat deelgeneem het aan die Slag van Bethlehem in 1864. Hierdie slag het verseker dat die grens van die Vrystaat groter gemaak is, van die Wittenberg tot by die Caledonrivier.

“Oupa van Rheenen het met ’n Skotse dametjie getrou en haar na sy plaas op ’n perdekar geneem. Vroegoggend soos ek verstaan, het die son op die berge geskyn en sy het uitgeroep ‘Oh what a beautiful golden gate’, en oupa het daar besluit dit is wat hy die plaas gaan noem; “Golden Gate”. Die plaas is later aan die Nasionale Parkeraad verkoop,” vertel tannie Constance trots.

Om die besoek te vier, het die BR-personeel ’n spesiale vergunning gemaak dat Tannie Constance en Cornay die replika van kanon Grietjie kon afvuur, wat volgens Tannie Constance vir haar ’n besonderse eer was.

“Ek sal ons besoek aan Bloedrivier nooit vergeet nie, wat ’n seën.”

Judean Jansen van Vuuren, bestuurder van die BR-erfenisterrein, sê Tannie Constance se besoek aan die terrein sal haar nog lank bybly en sy hoop dat haar liefde vir haar geskiedenis en erfenis nog baie mense, oud en jonk, sal inspireer.