Op 1 Junie het duisende musiekliefhebbers na die Voortrekkermonument (VTM) gestroom vir die Glimlagfees.

Die Glimlagfees het reeds in 2023 gesorg vir groot pret met van die land se gewildste kunstenaars op die verhoog en vanjaar was geen verskil nie.

Vanjaar was die eerste keer wat dié fees op die monumentterrein aangebied is met kunstenaars soos West, Juanita du Plessis, Liam Black, Chris Steyn, Matthew Mole, Eloff, Kurt Darren, Martin Bester, Droomsindroom, Karen Zoid, Tasché en Francois van Coke op die verhoog en in egte Glimlagfees-styl was daar geen tekort aan gees nie!

Juanita du Plessis, wat verlede jaar ook by die Voortrekkermonument se Gelofteweek opgetree het, het tydens die fees gesê die monument bly vir haar een van die lekkerste plekke om op te tree.

“Hier kan jy tuis voel, dis hoekom mens so lekker by die monument kuier,” sê sy.

Mario van Schalkwyk, van Pretoria, het saam met sy gesin by die Glimlagfees kom kuier en is dit met Du Plessis eens dat die Voortrekkermonument een van die lekkerste plekke is om ’n naweek met geliefdes deur te bring.

“Ek en my gesin het vandag heerlik gekuier. Ons was self lanklaas by die monument, maar ek het net weer besef hoe lekker mens hier kuier. Mens vergeet soms hoe baie hier is om te doen,” sê hy.

Die Glimlagfees is vanjaar weer ten bate van die Smile Foundation aangebied en gaan in Oktober vanjaar ook in Benoni aangebied word.

Die Smile Foundation is ’n organisasie wat hulself daartoe verbind om die lewens van kinders wat deur gesigmisvorming en ernstige brandwonde geraak word, te verbeter deur die beste moontlike chirurgiese en sielkundige sorg.

Henk Maree, bestuurder van funksies en feeste by die VTM, sê hy is baie opgewonde om te sien dat elke fees wat by die monument aangebied word net groter word.

“Die Voortrekkermonument speel al vir jare gasheer vir verskeie lekker feeste. In die verlede het ons selfs Aardklop hier aangebied én internasionale musikante soos Mumford & Sons, wat in 2016 hiér opgetree het, verwelkom,” vertel hy.

“Die feit dat al hoe meer mense die feeste en markte by die monument besoek, bewys net weereens dat Suid-Afrikaners steeds passievol is oor hul monument en graag hiér hulself wil kom uitleef.”

Maree wil oud en jonk aanmoedig om by die Voortrekkermonument te kom kuier.

Hou gerus die Voortrekkermonument se sosiale media dop vir komende feeste soos die gewilde Mampoer Kultuurfees op 6 Julie, die Jopiefees op 27 Julie en die jaarlikse Erfenisdag-vieringe op 24 September.