Honderde weermagveterane en hul families, jonk en oud, het vandag (Sondag 26 Mei) by die SA Weermagmuur van Herinnering by die Voortrekkermonument (VTM) bymekaargekom om hulde te bring aan Suid-Afrika se afgestorwe militêre helde.

Bykans 600 mense het vanjaar dié gedenkdiens van die Raad van Militêre Veterane Organisasies (RMVO) bygewoon om diegene te vereer wat die hoogste prys betaal het om ’n beter toekoms in Suid-Afrika te verseker.

Op die muur van herinnering, wat in 2009 by die VTM opgerig is, is 2539 individue se name, waarvan 782 in operasies gesterf het in die Suid-Afrikaanse Weermag.

Stefan Gunter (14) het tydens die gedenkdiens ’n krans namens sy skool, Hoërskool Garsfontein, gelê. Hy vertel dat sy teenwoordigheid hier vir hom veel meer beteken het omdat hy as jong seun kon grootword met die weermagstories van sy pa én oupa.

“Ek is baie lief vir geskiedenis en ek dink dis belangrik om te onthou, maar vandag was ekstra spesiaal omdat my familie ook deel is van die groep mense wat ons vandag onthou,” sê hy.

Nes die jong Gunter het die meeste van die besoekers vanjaar hul krans kom lê ter nagedagtenis van hul geliefdes wat deur die jare in die Suid-Afrikaanse Weermag gedien het en ouder gewoonte is dié geleentheid ’n viering van die ongelooflike nalatenskap van die soldate en hul families.

Genl.maj. Lawrence Smith, voorsitter van die RMVO, het tydens die diens hulde gebring aan sy kamerade en dié wat nie meer hier is nie.

“Vandag onthou ons die mense wat die letsels van die verlede dra. Julle wat saam met daai letsels leef, wéét jou medeveterane en -landsgenote sien dit raak. Die opofferings wat julle gemaak het, en nog daagliks maak, is vir ons belangrik,” sê hy.

Hy het afgesluit met ’n boodskap van hoop en maan dat ons vandag die verantwoordelikheid het om, soos dié voor ons, ons deel te doen om ’n beter toekoms te skep.

“Ons land is uniek en vandag gedenk ons weer as ’n unieke groep mense ons gesamentlike herkoms, soos dit in ons nasionale leuse ‘Diverse people unite’, oftewel eenheid in diversiteit, uitgedruk word. Vandag word ons weer herinner om met ’n positiewe gesindheid ’n beter toekoms vir ons kinders en hul nageslagte te skep.”

Die bekende sportkommentator en TV-aanbieder, Arnold Geerdts, het oudergewoonte die geleentheid aangebied. Vir hom is hierdie geleentheid nie net nog ’n gedenkdiens nie, maar ’n herbevestiging van waar ons land en sy mense vandaan kom én waarheen ons op pad is.

“Hierdie name teen die muur was mense wat vir óns en ons land geveg het. Ek het ’n paar dae gelede gelees dat daar tans ongeveer 110 konflikte regoor die wêreld aan die gang is en dit herinner mens net weer aan die voorreg wat ons het. Hierdie helde het vir ons geveg en die diens het net weer bevestig dat ons steeds moet veg, of dit nou agter ’n lessenaar is, of in die skool, ons almal kan steeds ’n bydrae lewer om ’n beter toekoms te bou.”

Vanjaar het plaaslike politici en militêre attachés van Ghana, Kenia, Botswana, Zambië, Indië, Nieu-Guinee, Ethiopië en Kanada die diens bygewoon.

Cilliers Brink, burgemeester van die Tshwane-metroraad, sê hy woon al vir jare dié geleentheid by omdat dit ’n geleentheid is om ons geskiedenis oor te dra aan ons jonger geslagte.

“Ek was al verskeie kere hier om die jaarlikse gedenkdiens by te woon. Vandag is ons hier ter nagedagtenis van die mense wat gesterf het vir hul land, en mense wat so groot opoffering gemaak het, moet geëer word, dis vir my so eenvoudig soos dit. Dis ’n ou wysheid dat ons leer uit die geskiedenis om ’n toekoms te bou en dit is wat ons vandag weer gesien het: Jong mense wat kom leer, bejaardes wat onthou en almal saam hier is om te onthou én te bou.”

Dr. Pieter Groenewald, leier van die Vryheidsfront Plus, is dit met Brink eens dat vandag ’n geleentheid is om die helde uit ons verlede te onthou.

“Hierdie dag is altyd spesiaal. Ek woon dit al van 2017 af by en dit is vir my bemoedigend om te sien dat dit elke jaar groter word,” vertel hy.

“Die belangrikheid van ’n dag soos vandag is om mense te onthou wat opofferings, maak nie saak aan watter kant van die geskiedenis jy staan nie, gemaak het. So dit is belangrik, veral vandag, in die omstandighede waarin ons ons nou bevind om hierdie mense en hul nalatenskap te onthou.”

Vanjaar het die bekende sanger Du Preez Stoltz ’n paar liedere tydens die diens gesing. Vir Stoltz, wat in Bloemfontein bly, was dit ’n riem onder die hart om te sien hoe ons ryk kulturele erfenis steeds gevier word, nie net deur die RMVO nie, maar op die hele monumentterrein.

“Ek kom nie gereeld hier nie, maar dit was vir my mooi om te sien hoe oud en jonk hier by die VTM hul geskiedenis kan vier en die toekoms indra. Vandag het my net weer bewus gemaak van ons land se ongelooflike erfenis. Dit is ons plig om dit te onderhou en vir ons kinders die geskiedenis te leer, want anders kan ons opeindig as ’n identiteitloos nasie. Die mense wat ons vandag onthou, het fisies vir ons land geveg en vandag leer ons weer dit is ons plig om saam te veg vir ’n beter toekoms.”

Die jaarlikse gedenkdiens van die RMVO was vanjaar weer ’n bewys dat “Ons vir jou Suid-Afrika,” nie net leë woorde is nie, maar ’n opdrag om ’n beter toekoms vir almal te bou.