Die Raad van Militêre Veterane Organisasies van Suid-Afrika (RMVO) het die afgelope naweek sy jaarlikse herdenkingsdiens by die Suid-Afrikaanse Weermag se Muur van Herinnering by die Voortrekkermonument gehou.
Die herdenkingsdiens, wat vanjaar deur meer as 800 mense bygewoon is, is een van die belangrikste gebeurtenisse op die militêre kalender en bring jaarliks hulde aan die soldate wat hul lewens in diens van Suid-Afrika verloor het. Sedert die muur se inhuldiging op 25 Oktober 2009, het dit ’n plek van eer en nagedagtenis geword. Tans pryk die name van 2 539 dienspligtiges op die muur, waarvan 782 soldate se name met ’n asterisk gemerk is omdat hulle tydens militêre operasies gesneuwel het.

Wolfie maak gereed om ‘n krans te gaan lê. (Foto: Du Preez de Villiers)
Volgens samajoor Johann du Preez, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Weermagvereniging en die RMVO, word die lys name voortdurend bygewerk. “Die nuwe name wat jaarliks bygevoeg word, is danksy deurlopende navorsing en skakeling met naasbestaandes,” het Du Preez gesê.
Verskeie lande het afgevaardigdes na die geleentheid gestuur, insluitend Frankryk, Oekraïne en Namibië, wat saam met Suid-Afrika aan die gevalle helde hulde gebring het. Een van die deernisvolle oomblikke was toe die hond Wolfie ook ’n krans gelê het. Pragtige perde het oudergewoonte deel van die luisterryke oggend gevorm.
Zieg van Huyssteen, bedryfshoof van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), het namens dié organisasie ’n krans gelê. “Geleenthede soos dié herinner ons aan die gedeelde erfenis van diens en opoffering. Om namens die FAK ’n krans te lê, is ’n daad van diepe respek – nie net vir diegene wat gesneuwel het nie, maar ook vir die families wat agtergebly het.”

Zieg van Huyssteen, bedryfshoof van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en Leonie Marais, bedryfshoof van die Erfenisstigting lê elkeen ‘n krans namens hulle organisasies. (Foto: Du Preez de Villiers)
Leonie Marais, bedryfshoof van die Erfenisstigting, het die belangrikheid van die Muur van Herinnering as ’n lewende monument beklemtoon. “Hierdie herdenkingsdiens is nie net ’n terugblik nie, dit is ’n herinnering om nie te vergeet nie. Die muur vertel verhale van moed, diens, verlies en trots. Ons het die verantwoordelikheid om hierdie geskiedenis te bewaar en met eer aan die volgende generasies oor te dra.”

Naasbestaandes en gaste by die Muur van Herinnering. (Foto: Du Preez de Villiers)
Gaste het ingesluit naasbestaandes van gevalle soldate, lede van die CMVO SA, verskeie militêre organisasies en individuele veterane. Gaste het die geleentheid gekry om ’n krans te lê of ’n kruis te plant ter nagedagtenis aan geliefdes wat hul lewens in diens van die land gegee het. Die boodskap van die dag was duidelik: “Ons sal hulle onthou.”