As die son sak en die Jakarandastad se liggies begin flikker, word die Heldesaal van die Voortrekkermonument die verhoog vir ’n onvergeetlike nagervaring. En jy is genooi!

Die Voortrekkermonument se eksklusiewe nagtoer op 18 Julie volg op ’n uitverkoopte nagtoer in Junie en is uniek verpak om ’n volk se verhaal van die Gelofte, geloof en genade te vertel. Ná ’n warm verwelkomingsdrankie om die winterbriesie te ontwapen, kry besoekers die geleentheid om die geskiedenis van die Afrikanervolk te beleef deur aangrypende storievertelling, musiek, ligte en toneelspel.

Die meeste van ons ken die verhaal van die Groot Trek soos dit op die friese in die Heldesaal uitgebeeld word. Christiaan Jordaan, die Voortrekkermonument se toerismehoof, staan egter stil by bepaalde oomblikke soos die oorhandiging van die Bybel deur die Britse setlaar Thomas Philipps aan Jacobus Uys, met ’n sterk simboliese betekenis as die begin van ’n geloofsreis.

Die fokus val ook op Vegkop, waar geloof sterker was as vrees; Bloukrans, ’n pikdonker nag, maar een wat geloof in genade verdiep het. Dan die aflegging van die Gelofte by Wasbank, ’n belofte wat tot vandag toe nagekom word; die Slag van Bloedrivier, waar geloof die allesomvattende en enigste troefkaart was; die bou van die Geloftekerk in Pietermaritzburg – ’n monument van dankbaarheid; en die kroning van Mpande en die vredesluiting, ’n les in versoening en gemeenskaplike toekoms, is alles geestelike stilstaanoomblikke.

In ’n wêreld waar hartstories oor die geskiedenis dikwels tussen vandag se oorvloed inligting verdwaal of verdwyn, breek die nagtoer by die Monument die geskiedenis op ’n unieke manier oop. ’n Mens hoor nie net van dapperheid en opoffering nie – jy voel dit deur jou siel spoel. Die storie van my en jóú wortels, ons erfenis, vertolk in ’n atmosfeer en ruimte vol eerbied, emosie en hoop.

🎻 Met klanke wat jou gaan meevoer en toneelspel wat herinneringe oproep, is dié nagtoer meer as ’n vertoning of besigtiging. Dit is ’n hernude bewuswording van God se genade en standvastige teenwoordigheid deur die eeue.

📅 Datum: 18 Julie 2025 🕐 Sessie 1: 17:30 – 19:30 | Sessie 2: 19:00 – 21:00 📍 Plek: Heldesaal, Voortrekkermonument 💰 Kaartjies: R300 per volwassene | R150 per kind (13 – 18 jaar)

Slegs beperkte plek beskikbaar. Bespreek vroegtydig! 🎟️ Koop jou kaartjies hier: https://vtm.org.za/nagtoere/