Vyf ou ossewaens in konvooi op die N1 op trek na Pretoria: Dít is nie iets wat jy elke dag sal sien nie, maar dit is wat mense gister (6 Junie 2024) beleef het toe ’n klein groep lede van die Kultuurtuiste douvoordag die langpad Parys toe en terug aangedurf het om dié ossewaens na hul nuwe tuiste by die Voortrekkermonument (VTM) te vervoer.

Dit is die derde “Groot Trek” van sy soort wat deur die kultuurtuiste aangepak is.

In Mei 2022 , meer as 180 jaar na die Groot Trek, het 16 ossewaens op hul eie trek inwoners van die Vrystaat aan die gons gehad toe die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) van Clarens na Parys dié op sleepwaens gelaai en die lang pad aangedurf het na die FAK se vakansieplaas, Udolpho, net buite Parys in die Vrystaat.

Hierdie waens is destyds gekoop as ’n nuwe toevoeging tot Udolpho se akkommodasie-opsies en vandag, na ’n Groot Trek in die kleine, staan die waens hul plek trots vol op die VTM-terrein.

Hiér het die Kultuurtuiste nie getrek vir vryheid of vrede nie, maar vir die behoud van ons historiese skatte.

Hierdie geskiedkundige trek was die grootste van sy soort sedert die historiese 150ste herdenking van die Groot Trek.

Lees meer oor die Clarens-trek: ln.run/1Gzw_

Byna ’n jaar later, in Julie 2023 het verteenwoordigers van die Voortrekkermonument die Groot Trek aangepak Lydenburg toe, na die huismuseum van die ontslape Christoffel Jacobus du Toit Viljoen en sy vrou, Jennifer Viljoen.

Hiér het hulle in 2007, na Viljoen se afsterwe, 18 ossewaens gaan haal wat deur sy vrou aan die monument geskenk is. Dié trek was die verwesenliking van Viljoen se lewenslange werk om die Afrikaner se ryk kulturele erfenis te bewaar en uit te bou.

Lees hier meer oor die Lydenburg-trek: ln.run/M1Zqx

Henk Maree, bestuurder van funksies en feeste by die Voortrekkermonument, sê dié ossewaens is ’n ongelooflike toevoeging tot die uitsonderlike kultuuraanbod op die Voortrekkermonumentterrein.

“Met die vyf nuwe waens wat ons op die monumentterrein gekry het, kan besoekers aan die monument nou ook die kans kry om in ’n wa oor te slaap soos die trekkers van ouds en só ook bietjie nader voel aan die geskiedenis van dié manne en vroue,” sê hy.

Die geskiedenis van die Afrikaner is deurweef met trekke:

In die vroeë 19de eeu het ’n groot groep grensboere aan die Kaapkolonie besluit om hul lewens hiér op te pak en ’n Groot Trek (1835-1840) die binneland in aan te durf.

In die 1870’s het ongeveer 700 Afrikaners besluit om die Republiek van Transvaal te verlaat en ’n beter toekoms elders te gaan soek. Die Transvalers het noordweswaarts deur Botswana en Namibië getrek en hulle uiteindelik in die suidweste van Angola gaan vestig. Dié trek het bekend gestaan as die Dorslandtrek.

Ná die Anglo-Boereoorlog het ’n groot aantal Afrikaners hul vaderland verlaat en hulle in die destydse Duits-Oos-Afrika (Tanzanië) en Brits-Oos-Afrika (Kenia) gevestig.

Die Groot Trek en ander bekende trekke in die Afrikaner se geskiedenis is nie blote historiese verhale nie, maar die bewys van die Afrikaner se opofferings, seges en swaarkry in hul strewe na vryheid, en vanjaar het die Kultuurtuiste weer die kollig geplaas op die uitsonderlike nalatenskap van dié wat voor ons gekom het.

Deur die Voortrekkermonument te ondersteun, stel jy ons in staat om meer projekte soos dié aan te pak en te verseker dat jou erfenis behoue bly. Sluit aan as ’n vriend van die Voortrekkermonument en maak ons hande sterker: https://sluit-aan.vtm.org.za/