“’n Mens kan hier by die Voortrekkermonument (VTM) belangrike erfenisskatte nuwe lewe gee.”

Só vertel Erna Botha van Pretoria toe sy vandag (1 Julie 2024) ’n versameling waardevolle oudhede aan die Voortrekkermonument kom skenk het.

Onder die skenking was ’n oorspronklike illustrasie van die Van den Heever-geslagsregister en ’n handgemaakte kwilt, van 1.3 by 1.1 meter, wat volgens oorlewering aan die familie van bekende skrywer CM van den Heever behoort het, wat uit Botha se ma, Lina Smit-Kritzinger (90) se persoonlike versameling kom.

Smit-Kritzinger, ’n bekende kunstenaar uit Krugersdorp, het hierdie uitsonderlike items gekry na die afsterwe van haar boesemvriendin en medekunstenaar Marie Nolte (née Van den Heever) wat dit aan haar bemaak het. Vandag het hierdie items ’n nuwe huis by die VTM se Erfenisstigting gekry.

Die stamboom-kunswerk is van Nolte se familie aan moederskant, Daniel Gerhardus (gebore 19 September 1816) en Cornelia Petronella Nolte (12 Februarie 1821).

Lizette Jansen, bestuurder by die Erfenisstigting, sê hierdie skenking is absoluut merkwaardig en getuig van ’n unieke voorbeeld van Suid-Afrikaanse volkskuns. “Die kwilt wat ons ontvang het, het ’n pragtige agtpuntster wat met die hand vasgewerk is in die middel.”

Dié sterpatroon, vertel Jansen, simboliseer tradisioneel die geboorte van Christus, wat ’n mooi boodskap van hoop in die kuns oordra.

“Die fyn handewerk getuig daarvan dat die kombersie uit die 1800’s dateer.”

“Die geslagsregister is ook ’n besonderse stuk volkskuns. Dis pragtig en gedetailleerd en die blomme en plantslingers wat die dokument versier, getuig ook van die periode waaruit dit kom,” sê sy.

Botha het tydens haar besoek vertel dat sy graag dié items aan die monument wou skenk omdat sy verstaan dat dié stories hier kan voortleef en bewaar kan word vir komende geslagte.

“My ma is vreeslik lief vir oudhede en het ’n uitsonderlike persoonlike versameling met alles van kuns tot handgemaakte kappies, daarom het sy besluit om hierdie skenking aan die VTM te maak,” sê Botha.

“Ek dink dit is belangrik omdat mens nie noodwendig self weet hoe om hierdie items te bewaar nie, en daarom was dit vir ons as familie belangrik om my ma se lewenslange vriendin te eer deur haar items hier te bewaar. ’n Mens kan hier belangrike erfenisskatte nuwe lewe gee en hulle storie laat voortleef.”