Lede van die Vlaams Instituut voor Zuidelijk Afrika (VIZA) het vandag, 20 Maart, kom kuier by die Voortrekkermonument (VTM) tydens hul besoek aan Suid-Afrika.

Dié organisasie bearbei hom met die ontwikkeling van die Afrikaanse taal en kultuur, sowel as dié van België, Vlaandere en Nederland, deur verskeie projekte soos uitruilprogramme en toere.

Tydens hul mees onlangse besoek aan die land het die VIZA-voorsitter, Johan Beke, gesê hy is baie bly dat hulle vanjaar weer ’n besoek aan die land, en ook by die VTM, kon aflê omdat dit ’n goeie geleentheid is om hul mense te kan blootstel aan die lewe in ’n hedendaagse Suid-Afrika.

“Ek was persoonlik in 2019 laas hier by die VTM en dit is vir my werklik goed om te sien hoe die monument groei en daagliks hul bearbei met die uitbou van die Afrikaner se kultuur, net soos VIZA ook doen,” het hy vertel.

“Ons organisasie reël dikwels toere na Suid-Afrika toe om hiér meer te kan leer oor die taal en geskiedenis. Dit bly wonderlik om te sien dat die VTM in ’n moderne Suid-Afrika steeds die voortou neem as dit kom by die viering en uitbou van verskeie kulture in die land. Almal is hier welkom en mens kan dit sien aan die suksesse van die monument.”

Beke word vergesel deur lede van sy organisasie sowel as lede van die Orde van die Prinse, ’n internasionale taalorganisasie wat spesifiek kyk na die ontwikkeling van Afrikaans en sy Europese eweknieë.

“Afrikaans lê ons almal baie na aan die hart en dit maak die besoek aan die VTM nog meer spesiaal om te kan sien hoe die taal en kultuur hier bevorder word.”

Beke het die VTM in 1991 die heel eerste keer besoek tydens ’n diplomatieke besoek aan die land. Hy was in daardie jare nog ’n politikus verbonde aan die Volksunie.

“In die vroeë negentigs toe ek hier was, was dit in my hoedanigheid as politikus. Toe het die wêreld nog gewonder of daar ’n dreigende revolusie in Suid-Afrika op pad is, en vandag lyk die prentjie totaal anders.”

Die res van die besoekers was dit eens dat hul ervaring by die VTM besonders was en dat die verhale wat hier vertel word hulle diep geraak het.

Na ’n insiggewende toer, gelei deur die VTM se hoof van Erfenisbewaring, Jaco Cilliers het die Vlaamse besoekers ’n eg-Suid-Afrikaanse bederf in die Afrikaanse Liedjietuin geniet met braaivleis, braaibroodjies en ’n glasie Amarula op ys om die spreekwoordelike kersie op die kultuurkoek te sit.