Op Saterdag 8 Junie 2024 het die Voortrekkermonument (VTM) hul Algemene Jaarvergadering gehou saam met die monumentdireksie en ander belanghebbendes en teruggekyk op ְ’n suksesvolle jaar op die terrein.

In 2023 het die VTM verskeie mylpale gevier en dit blyk dat 2024 geen verskil gaan wees nie.

Die monument het 2023 afgesluit met naby aan 190 000 besoekers wat dié jaar die terrein besoek het, waarvan 9065 skoolleerders was. Die sluit nie eers leerlinge in wat gratis die monument besoek het nie. Op 16 Desember het ’n rekordgetal van 30 000 mense hiér die Gelofte kom gedenk.

Sedert Januarie vanjaar het 18 987 oorsese toeriste al hiér besoek afgelê. Die monument het ook 9360 plaaslike besoekers gehad en 2248 leerders wat hier kom kuier het. Hierdie sluit ook nie eers die feeste, markte en konserte in wat al vanjaar gehou is nie.

Christiaan Jordaan, toerismebestuurder by die Voortrekkermonument, sê dit is verblydend om te sien hoeveel mense nog inkoop in die verhaal van die Voortrekkermonument, verál omdat die getal plaaslike besoekers ook maand na maand toeneem.

“Dit is wonderlik om te sien dat Suid-Afrikaners na die Voortrekkermonument toe kom en nog wil leer en weet van kultuur en geskiedenis.”

Die VTM het vanjaar ook begin om die bestaande stap- en fietsryroetes op die terrein op te knap en uit te brei en sedertdien het 1544 stappers al hiér kom kuier om die nuwe roetes uit te toets.

Hierdie uitbreidings maak ook deel uit van die nuwe natuuraanbod wat deur die VTM-personeel ontwikkel is.

Deel van hierdie aanbod is om nog staproetes te open vir die publiek, ’n splinternuwe natuurgids uit te gee en moontlik later ’n uitkykpunt te bou by die gwarriegat waar voëlkykers kan uitspan.

Ilomi Kruger, natuurbewaarder by die Voortrekkermonument, wat vanjaar by die span aangesluit het, is getaak om dié aanbod uit te brei.

“Die Voortrekkermonumentterrein het ’n groot biodiversiteit en baie geskiedkundige waarde. Behalwe vir die monument self, lê daar baie geskiedkundige waarde op die terrein, byvoorbeeld die gwarriegat,” sê Kruger.

Op 29 Februarie 2024 het die VTM se tuinboukundige, Allan Tait, na maande se navorsing ook die medisinale tuin in die walaer voor die monument uitgebrei.

Tait vertel dat hierdie tuin die medisinale plante wat die Voortrekkers tydens die Groot Trek gebruik het as medikasie verteenwoordig.

“Ons wou graag met die uitbreiding van dié tuin vir toeriste die ervaring gee om hierdie plante te ruik en in te dink hoe dit daardie tyd gebruik is,” sê Allan Tait.

Net soos die natuuraanbod is die monument tans besig met groot planne om ons sport- en leefstylaanbod uit te brei. Pikkie de Villiers wat verantwoordelik is hiervoor vertel dat besoekers aan die monument vanjaar kan uitsien na verskeie klasse soos Tae Bo en pilates op die terrein.

Die immergewilde parkrun het ook in 2024 sy terugkeer na die VTM gemaak.

Die ontwikkeling van die Voortrekkermonument se markplein het verlede jaar groot opwinding gebring en die afgelope naweek het die monument ook tydens ’n intieme funksie na die Algemene Jaarvergadering trots die lint geknip om die nuwe Uitspan Deli bekend te stel. Saam met die opening van die nuwe deli het die monument ook vanjaar ’n splinternuwe produktereeks en Kultuurkafee bekend gestel wat ook hiér ’n tuiste het.

Die Voortrekkermonument ontvang geen finansiële ondersteuning van die staat nie, maar ten spyte daarvan gaan die monument, met behulp van ons vriende, daagliks van krag tot krag. Sluit vandag aan as ’n Vriend van die Voortrekkermonument en bou saam met ons die toekoms. “Hier staan ons” duisende sterk; staan jy saam?

Sluit hier aan: https://sluit-aan.vtm.org.za/