Die Voortrekkermonument is opgewonde om aan te kondig dat ons vanjaar ’n vennoot is in die gewilde 702 Walk the Talk-pretloop.

Dié wedloop is vanoggend (4 Julie 2024) aangekondig tydens ’n funksie by Vryheidspark in Pretoria, met joernaliste van verskeie mediahuise wat die geleentheid bygewoon het.

Vanjaar skop die wedloop af tussen die Voortrekkermonument en Freedom Park en deelnemers kan uitsien na ’n rustige 6.7 km-roete of ’n 8 km-roete wat op die Uniegebou se gronde eindig.

Duisende mense word by die wedloop wat op 28 Julie plaasvind, verwag. Die wedloop word ook gedoen om fondse in te samel vir verskeie liefdadigheidsaksies.

Gerhard Pretorius, kommunikasiebestuurder by die Voortrekkermonument, sê dit is wonderlik om verhoudinge met verskeie rolspelers te kan aanknoop.

“Die Voortrekkermonument is ’n baken van hoop en is gebou op die grondslag van verhoudinge met verskeie kultuurgroepe in Suid-Afrika. Dit is werklik spesiaal om met die radiostasie 702 te kan hande vat en ook saam met rolspelers soos Vryheidspark, die Tshwane Metroraad, Gauteng Toerisme-agentskap en nog vele meer te kan werk. Die beskerming van ons eie identiteit, maar ook die samewerking saam met ander organisasies en kultuurgroepe in ons land, is sonder twyfel die sleutel tot sukses,” sê Pretorius.