Vandag (5 Julie 2024) is die verhaal van die Afrikaner vir die 139ste keer by die Voortrekkermonument (VTM) bevestig toe personeel van die kultuurtuiste die nuwe Geloofsprong-beeld op die Markplein onthul het.

Die VTM is die tuiste van 138 beelde van premiers en presidente, pioniers en baanbrekers in die geskiedenis soos Paul Kruger, Piet Retief en Susanna Smit, én nou word hul nalatenskap herbevestig met die toevoeging van hierdie bekende beeld op die VTM-terrein.

Dié beeld, wat ’n replika van die oorspronklike Danie de Jager-kunswerk is, pryk nou bo-op die fontein voor die monument en wanneer mens hiér besoek kom aflê, word die Afrikaner se verhaal van swaarkry en seges én geloof van hoek tot kant op die terrein bevestig.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die VTM, sê dié beeld verteenwoordig ’n belangrike deel van die Afrikanergeskiedenis – hul onwrikbare geloof.

Langner vertel dat die De Jager-beeld ’n man uitbeeld wat vasgedraai is in sy omstandighede, maar dan vat dié man ’n sprong, nie net vorentoe nie, maar boontoe.

“’n Geloofsprong is om ten spyte van lyding, verlies, onsekere omstandighede, swaarkry waarin jy vasgedraai is, steeds jou hand uit te strek na God en vorentoe en boontoe beweeg,” sê Langner.

Dit sluit vir Langner ook aan by wat JD Kestell eens gesê het: “Vorentoe en in dieselfde momentum boontoe na God toe.”

“Binne die konteks van die Voortrekkermonument weet ons die Voortrekkers het met hul trek(ke) verskeie ontberings deurgemaak en daar was nie werklik ’n waarborg van sukses of ’n beter toekoms aan die einde van die Trek nie, en daarom was die Groot Trek op sigself ’n geloofsprong. Die Voortrekkers het keer op keer daai geloofsprong gewaag en dít is wat hierdie beeld hier voor die monument verteenwoordig.”

Barry Müller, die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se hoof van nasionale projekte, het namens die kultuurtuiste die beeld onthul en sê hy hoop die beeld, soos die geskiedenis van die Afrikaner, sal baie mense inspireer.

“Die Geloofsprong-beeld is baie simbolies aan waar ons vandag is en leer ons om nie net blindelings te volg nie, maar as ’n gemeenskap, as een vorentoe te beweeg en ’n beter toekoms te skep.”

Die beeldhouer Jaco van Niekerk, wat die Geloofsprong-replika gemaak het, is eiehandig verantwoordelik vir meer as 20 van die beelde op die VTM-terrein en sê dat dit vir hom ’n eer is om met sy kuns die inspirerende verhaal van die Afrikaner te kan vertel.

“Dit is ’n groot eer en voorreg om ’n replika te kon maak van Danie de Jager, een van ons land se mees gevierde kunstenaars, se beeld,” vertel Van Niekerk.

“Meer as dit het die beeld ’n belangrike boodskap vir ons vandag én vir die komende geslagte: ‘Jy moet altyd opkyk na God’.”

By die Voortrekkermonument word die taal, kultuur en geskiedenis van die Afrikaner verder gevier in 13 gedenkmure en -tekens, 12 gedigteborde in die gedigtetuin en meer op die Pionierswerf, in die Troostuin en by Fort Schanskop én 57 liedjieborde in die FAK se Afrikaanse Liedjietuin, en die een tema wat deurweef is, is die Geloof waarop hiérdie ongelooflike erfenis gebou is.