Met sweet op hul voorkoppe, son op hul skouers en vars energie in die lug, het bykans 600 mense onlangs die opening van die splinternuwe buiteluggimnasium by die Voortrekkermonument bygewoon – ’n ruimte wat nie net vir fiksheid ontwerp is nie, maar vir geestelike inspirasie en ’n gesonde dosis vitamien D van die Pretoria-son.
Die eindpunt van die weeklikse Parkrun is spesiaal vir hierdie geleentheid geskuif sodat die deelnemers, elkeen met ’n gratis koppie koffie in die hand, rustig tussen die toerusting kon deurstap en vat en voel terwyl hulle ná die moordende kilometers kon afkoel.

Die buiteluggimnasium by die Voortrekkermonument nooi oud en jonk uit om dié fasiliteit te besoek en benut. (Foto: Mareli Bothma)
Die Voortrekker Outdoor Boot Camp is spesiaal genooi om te wys hoe hierdie blink nuwe ysters werk en die Voortrekkermonument se draf-en-stapklub, Navworld en Smooth Accessories & Bicycle Movers het hul produkte en dienste uitgestal, wat tot die feestelikheid bygedra het.
’n Kompetisie wat by die Voortrekkermonument gebore is, Voortrekkersterk, is ook tydens die geleentheid gehou. Die manswenner, wat ’n ossewawiel die langste in die lug kon hou, was Juan van den Berg met ’n tyd van 5 minute, en die vrouewenner was sy vrou, Nadine van den Berg, met ’n tyd van 1 minuut en 30 sekondes.

Juan van den Berg het die ossewawiel vir 5 minute vasgehou, terwyl Niël Langer van die Voortrekkermonument se bemarkingspan sy tyd geneem het. (Foto: Mareli Bothma)
“Die buitelewe is so deel van ons kulturele bestaan soos biltong en braaivleis. Ons kamp, jag, hou piekniek of kuier gesellig om die braaivleisvuur. Die buiteluggimnasium is nie net ’n opwindende uitbreiding van ons sport-en-leefstylaanbod nie, maar ’n belegging in mense se fisieke en geestelike welstand,” sê Dawid Brand, bedryfshoof: beeld en groei van die Voortrekkermonument.
Die buiteluggimnasium is naby die Plaaswerf en Pioniersentrum geleë, omring deur bome, vars lug en ’n pragtige uitsig oor die Jakarandastad. Die gimnasium is ’n bymekaarkomplek vir almal vir wie kultuur belangrik is en wat ’n waardering vir erfenis koester, sê Brand. “Deur in die geselskap van ander wat jou waardes en agtergrond deel, te oefen, bou nie net spierkrag nie, maar ook gemeenskapskrag. Dit moedig gesprekke aan, bied waardevolle ondersteuning en bou veerkragtige vriendskappe.”

Fiksheid en kultuur loop hand aan hand by die Voortrekkermonument se buiteluggimnasium. (Foto: Mareli Bothma)
Tukkies se vrouesewesrugbyspan, onder leiding van afrigter Riaan van der Merwe, was van die eerstes om die unieke oefenruimte uit te toets. Dié span, wat reeds die Monument se bekende (en uitdagende) amfiteatertrappe gebruik om hul bene fiks te hou, het dié keer die voorreg gehad om hul oefeninge met splinternuwe toerusting in die vars lug te doen.
“Ons het die trappe al dikwels vir kardio-oefening gebruik,” sê Van der Merwe, “maar dié besonderse buiteluggimnasium gee vir ons soveel meer opsies, en op die koop toe ’n asemrowende uitsig.”

Jordan Holtzhausen en Lia Revelas, twee van Tukkies se vrouesewesrugbyspanlede is baie beïndruk met die Voortrekkermonument se nuwe buiteluggimnasium se toerusting. (Foto: FC Pelser)
“Om in ’n besonderse erfenisgebied soos die Voortrekkermonument-terrein te oefen, verbind mense met hul wortels en geskiedenis terwyl die oop ruimte ’n gevoel van vryheid en kalmte skep wat nie maklik in ’n geslote gimnasium nageboots kan word nie. Vir baie besoekers bring dit ’n gevoel van trots en verbondenheid, wat oefening ’n veel dieper betekenis gee – ’n gesonde liggaam huisves immers ’n gesonde gees,” sê Brand.
Volgens hom is die buiteluggimnasium by die Monument ’n inspirerende voorbeeld van hoe geskiedenis en gesondheid hand aan hand loop, en herinner ons daaraan dat gesondheid nie net fisiek is nie, maar ook geestelik, sosiaal en kultureel gewortel kan wees.
Pikkie de Villiers, projekbeampte: sport en leefstyl, stem saam en sê dit is veel meer as net ’n plek om te oefen. “Dis ’n ruimte skep waar mense lekker kan oefen en tuis kan voel. Dit is beslis vir almal: vir dié wat net wil begin beweeg, vir atlete wat hul fiksheid wil opskerp, en vir families wat saam ’n gesonde leefstyl wil uitoefen.
“Die gimnasium is ontwerp met volhoubaarheid en funksionaliteit in gedagte. Die verskeidenheid van oefentoerusting, van stasies vir kragoefeninge tot areas vir mobiliteit en balans, maak dit geskik vir alle fiksheidsvlakke en ouderdomsgroepe,” sê De Villiers.

Tukkies se vrouesewesrugbyspan beplan om meer gereeld tyd in die Voortrekkermonument se buiteluggimnasium te spandeer. (Foto: FC Pelser)
- Om meer oor die Kultuurtuiste se sport-en-leefstylaanbod te wete te kom, klik hier.