Die immergewilde nagtoer by die Voortrekkermonument het op 20 September amptelik afgeskop en dié keer word dit vir ’n hele week aangebied.
Dié Nagtoermaraton is al vir weke lank op almal se lippe en het selfs die aandag getrek van die gewilde sanger, Adam Tas, wat op 26 September dié opwindende toer gaan meemaak en hy nooi elke geskiedenisliefhebber om die aand saam met hom te kom geniet.
In Maart vanjaar het die bekende sanger een van die VTM se beskermhere geword en duisende mense geïnspireer om ook hul kultuurtuiste te ondersteun.
Die Nagtoermaraton is ’n unieke kultuurervaring waarin besoekers op ’n reis geneem word deur die geskiedenis van die Voortrekkers, met skouspelagtige beligting en wêreldklas toneelspel wat die seges en swaarkry van die Groot Trek uitbeeld en lewend maak voor die oë van die toeskouers.
In Erfenismaand word hierdie toere vir die eerste keer in Engels ook aangebied om die Groot Trek-geskiedenis aan ’n breër gehoor voor te stel en Tas se komende besoek beloof om beslis ’n lekker kersie op die Kultuurkoek te plaas.
Koop jou kaartjie vir die Voortrekkermonument se Nagtoermaraton op 26 September (17:00-20:00), ontdek die geheime van die monument en kom skuur skouers met die monument se trotse beskermheer!
Vir besprekings of alternatiewe datums: https://vtm.org.za/nagtoermaraton-2024/