Afrikaners is as kultuurgroep, deur die loop van ons geskiedenis, in essensie nog altyd afhanklik van die Liewe Vader.
Dit is juis hierdie bevestiging van afhanklikheid wat ons as kultuur deur uiterse swaar tye verenig. Min het hierdie waarheid beter uitgeleef as die Voortrekkers op Bloedrivier …
Om afhanklikheid van die Here te aanvaar, is om te aanvaar dat ons sonder Hom tot niet sal gaan. Ons gee oor, alles wat ons het, alles wat ons is.
Die uitdagings wat ons kultuur nou ervaar, is meer genuanseerd en kompleks, dit is ’n kombinasie van direkte en indirekte aanval met die oog op die afplatting en uiteindelike uitwissing van ons kultuur.
Net oor daar nie assegaaie op die horison is nie, beteken nie daar is nie ’n bedreiging nie.
Ons kan egter leer uit ons verlede en wat tot dusver gelei het tot ons kulturele suksesse. Die dae wat kinders in skole waarde vanuit die Voortrekkerstories kon put, is verby, en is dit dus elke Afrikaner se verantwoordelikheid om die oordrag van hierdie ryk geskiedenis na die volgende geslag te verseker.
Die tipe geloof wat dit neem om 20 000 Zoeloes in die gesig te staar en nie te vlug nie, sê baie van wie hierdie Voortrekkers was. Dit sal diep geestelike introspeksie neem om uit te klaar of ek self sou beskik oor hierdie diep geloof en vertroue, maar die Voortrekkers het; so goed het die Here hulle bewaar dat nie een Voortrekker op die dag sou sterf nie.
Die Gelofte word hier dus ’n tasbare oomblik in die Christelike Afrikanergeskiedenis en is een van die groot boustene op ons ryk geskiedenis.
Die Voortrekkers het nie vir hulleself, eie roem en eer geveg nie, maar vir ons, die nageslagte, sodat ons elke jaar opnuut ons afhanklikheid teenoor die Here kan verklaar.
Die Gelofte lees: “Hier staan ons voor die Heilige God van Hemel en aarde om ’n gelofte aan Hom te doen, dat as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons die dag en datum elke jaar as ’n dankdag soos ’n Sabbat sal deurbring, en dat ons ’n huis tot Sy eer sal oprig waar dit Hom behaag, en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte. Want die eer van Sy naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan Hom te gee.”
Dit is ons voorreg om elke jaar opnuut op die 16de Desember ons afhanklikheid teenoor die Here te bevestig. Kulturele regte word gegee vanaf die Here en is dit ons verantwoordelikheid om hierdie te koester, te gebruik en te bou. Die Afrikaner het ’n ryk geskiedenis van veerkragtigheid juis oor ons weet ons word deur die Almagtige beskerm.
Die kultuur van opstand teen onreg strek ver terug in ons kulturele herkoms, Die Hervorming vanuit Wes-Europa, die opstand teen koloniale en plaaslike magte en vandag die weerstand teen die afplatting van ons kultuur.
Ons geveg is egter vir die voortbestaan van ons kultuur en beaam ek in hierdie stuk dat ons soos ons voorgangers bankvas moet staan vir ons Westelike tradisies van geloof, orde, vryheid en bou. Dit is belangrik hier om onsself in konteks van die ontwikkeling van die Westelike beskawing te plaas en die uiterse groot rol wat die Afrikaner gespeel het om Westelike tradisies na Afrika te bring, skaamteloos te erken en daarop te bou.
Elke dag, as ons ontwaak, prys ons die Here vir die plekkie onder die son wat aan ons toegeskryf is, die mense waarvoor ons verantwoordelik is en die kultuur wat in ons hande lê.
Wees vir seker, ek en jy is hier om te bly. Bevestig dit saam op die 16de Desember en lê u Gelofte af.