ERFENISPRET

KRUGER-STERFTEKAMER UITSTALLING

Die Kruger-galery op die terrein van die Voortrekkermonument spog met ’n nuwe uitstalling, Paul Kruger se Sterftekamer. Die sterftekamer is ingerig vir die 120ste herdenking van oudpresident Paul Kruger (1925–1904) se afsterwe in Switserland en is op Vrydag 12 Julie 2024 amptelik geopen.

Nadat die Vredesverdrag onderteken is, wat ’n einde aan die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) gebring het, het Paul Kruger as banneling die land verlaat op soek na steun vir die Boererepublieke in die buiteland. Hy het op ’n seereis vertrek vanaf Lourenço Marques (Maputo, Mosambiek), gevolg deur ’n besoek aan Nederland, Marseilles in Frankryk en uiteindelik Switserland, waar hy op 14 Julie 1904 aan longontsteking gesterf het.

In 1910 is die kamer in Villa Kruger, oftewel die Krugerhuis in Clarens, Switserland, waar Paul Kruger gesterf het as ’n informele museum bestuur. Op 10 Oktober 1949 het dr. DF Malan, voormalige eerste minister, aangekondig dat die Switserse sterfhuis te koop aan die Suid-Afrikaanse regering gebied is. Die FAK was betrokke om landwyd fondsinsamelings te loods. Die geld is in rekordtyd ingesamel en die huis is op 27 Februarie 1950 gekoop en in 1951 aan die FAK oorgedra.

In 2021 het die serwituut verval en die huidige eienaar het aangedui dat Villa Kruger as ’n privaat woning verkoop sou word. Die eienaar het egter ingewillig om die bestaande inhoud van die sterftekamer aan die FAK te stuur.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, Voortrekkermonument en Erfenisstigting vertel hoekom dit juis so gepas is vir die sterftekamer om ’n tuiste by die Voortrekkermonument te vind: “Dit maak vir die FAK sin dat dit by die Voortrekkermonument moet wees, juis omdat Paul Kruger as ’n jong seuntjie betrokke was by die Slag van Vegkop.”

Die Kruger-galery is ingerig met ’n aantal kunswerke en voorwerpe oor die Anglo-Boereoorlog, wat konteks bydra tot die uitstalling. Die galery spog met veertien skilderye van Anglo-Boereoorlog-generaals, rolspelers tydens die oorlog en veldslae. Daar is agt borsbeelde, insluitend die JH de la Rey-borsbeeld wat in 2022 tydens ’n brand by die Ampie Bosman-museum in Lichtenburg groot skade opgedoen het. Drie makette van Danie de Jager is ook op uitstalling, naamlik die Filosoof, Afskeid en Piet en Hendriena Joubert. Die oorspronklike Ras-kanon, wat deur Martinus Ras in 1881 vervaardig was, het ook ’n spesiale plek binne die Kruger-galery.

BESOEK DIE KRUGER-STERFTEKAMER UITSTALLING IN DIE KRUGER-GALERY