Meer as 400 leerders van die Kid Maponya Primary School in Krugersdorp het vandag opgewonde by die Voortrekkermonument (VTM) opgedaag vir ’n dag se leer en speel op die monumentterrein.

Buyisiwe Maphumulo, een van hul onderwyseresse, het gesê dié akademiese uitstappie sal die kinders baie help om in die toekoms hul skoolgeskiedenis baas te raak.

“Daar word gesê Sosiale Wetenskappe gaan een van die dae ’n verpligte vak word vir baie leerders in staatskole, en daarmee saam gaan die kinders natuurlik baie fokus op die Suid-Afrikaanse geskiedenis,” het sy vertel.

“Mens kan so baie hier by die Voortrekkermonument leer, nie net van die Afrikaners nie, maar ook van die Zoeloes en Matabeles en ek dink dit is goed vir die jong kinders om ’n groter prentjie van ons land se geskiedenis te kan kry.”

Die leerders het uit die staanspoor in groot groepe verdeel en die monumentterrein plat geloop om saam met die toergidse meer te leer. Antoinette Venter, een van die toergidse, sê ten spyte van die grootte van die groep, was dit een van die lekkerste toere wat sy al aangebied het.

“Kinders vra gewoonlik lekker vrae wanneer mens vir hulle toere aanbied. Hierdie jongklomp was regtig leergierig,” het sy vertel.

“Dis werklik lekker om te sien dat die jongmense ook aanklank kan vind by ons land se geskiedenis.”

Na ’n lekker toer deur die monument het die leerders hul weg gevind na Fort Schanskop toe waar die VTM-personeel hul meer geleer het oor sweepslaan en die skeepskanon Susanna afgevuur het.