Die immergewilde Mampoer Kultuurfees en Kampioenskappe is al vir dekades een van die bekendste feeste in Pretoria en vanjaar (2024) het duisende mense kom kuier toe dié fees vir die eerste keer by die Voortrekkermonument aangebied is.

Die fees is vanjaar ouder gewoonte in samewerking met die Mampoerstokersgilde van Suid-Afrika aangebied.

Oom Alwyn Swart, voorsitter van die Mampoerstokersgilde, sê hy is baie dankbaar vir die opkoms vanjaar en verál bly om te sien hoeveel mense inkoop in nie net die mampoerkultuur nie, maar ook Afrikanertradisies soos boeresport en jukskei speel.

“Die jaar was dit die eerste keer wat ons die fees by ’n nuwe venue aangebied het en ons is baie dankbaar dat dit só ’n groot sukses was,” sê Swart.

“Vanjaar het ons ’n rekordgetal inskrywings van 685 bottels mampoer en likeurs vir die kampioenskappe gekry. Ons het weer baie lekker, unieke inskrywings gekry en ek dink ons het selfs die grootste fynproewers gelukkig gehou.”

Die algehele wenner vir die tweede agtereenvolgende jaar was Marijke Kleynhans van Stilbaai.

Henk Maree, bestuurder van funksies en feeste by die VTM, sê vanjaar se fees was een van die lekkerste feeste van die jaar op die monumentterrein.

“’n VTM-fees is altyd ’n geleentheid om jou kultuur te vier saam met geliefdes én die Mampoer Kultuurfees het dit net weer bewys,” sê Maree.

“Vanjaar het ons jong opkomende kunstenaars soos die sangeres Anzelle, ’n student aan die Universiteit van Potchefstroom, en Kyle Bahr, wat op 23-jarige ouderdom reeds groot opspraak maak in tradisionele boeremusiekkringe, op die verhoog gehad. Ons het ook gesoute musikante soos Stephaan van Zyl en Vriende, die Jakaranda Boereorkes en die Voorloper Boereorkes hier gehad. Pieter Koen was ons seremoniemeester en het self agter die mikrofoon ingeskuif om die mense aan die dans te kry.”

Maree sê dat hierdie fees net weer bewys het dat die Afrikanerkultuur leef, met alles van jukskeie tot boeresport én Boer-dra-’n-vrou.

Danie Langner, besturende direkteur van die VTM, is dit met Maree eens dat vanjaar se Mampoerfees ’n viering was van die Afrikanerkultuur.

“Die Mampoerfees by die Voortrekkermonument was lekker. Daar was pannekoek, vetkoek, braaivleis, boereorkeste, boeresport, jukskei en natuurlik rakke vol vloeibare tradisie,” sê Langner.

Tydens die beoordeling van vanjaar se kampioenskappe het Langner ook kers opgesteek by oom Loftie Ellis van Stellenbosch, wat al veertig jaar in die wynbedryf is.

Hý vertel dat daar vanjaar 25 beoordelaars was en die kompetisie was straf. Die mampoergilde het inskrywings gehad, waaronder peer, pruim, perske, vye, sitrus, druiwe en witblits mampoer.

“As vanjaar se fees een ding bewys het, is dit ‘Afrikaners is steeds plesierig’,” sluit Langner af.