Vir die heel eerste keer sedert die Voortrekkermonument in 1949 sy deure vir die publiek oopgemaak het, is dié historiese baken se indrukwekkende voordeure en al 12 binnedeure met sorg en respek volgens streng erfenisriglyne gerestoureer – ’n liefdeswerk wat die Monument nuwe lewe gee.

Een van die deure wat na die Voortrekkermonument se 233 binnetrappe lei. (Foto: Du Preez de Villiers)
Leonie Marais, bedryfshoof van die Erfenisstigting – ’n instansie wat saam met die Voortrekkermonument en die FAK deel van die Kultuurtuiste vorm – vertel met trots hoe die reusehoutdeure nou hul oorspronklike prag teruggekry het. “Ons het vir die eerste keer ooit die voordeure verwyder, deeglik afgeskuur en met ’n spesiaal saamgestelde chemiese mengsel behandel. Só sorg ons dat dit nie net mooi vertoon nie, maar ook vir geslagte lank behoue bly.”
’n Gespesialiseerde kontrakteur is genader om seker te maak dat elke stap volgens die korrekte metode plaasvind. Die reuseskarniere en kosyne is ook noukeurig nagegaan om te verseker dat dit die gewig van die massiewe deure met gemak kan dra.

Die bankies in die Monument se Heldesaal is ook onlangs gerestoureer. (Foto: Du Preez de Villiers)
Terwyl die herstelwerk aan die gang was, het die Heldesaal se bankies ook ’n vars laag glans gekry – ’n gepaste huldeblyk aan die plek waar helde geëer word.
Die voordeure self is indrukwekkend: elkeen meet 3,5 meter in hoogte, is 7 cm dik en 1 meter breed. Hulle word gesluit met ’n pragtige geelkoperslot en twee stewige koperstawe wat van bo tot onder in die kosyn vassteek – ’n meesterstuk van vakmanskap deur die skrynwerker Izak Francois Nel, wat destyds die deure uit kiaathout vervaardig het.

Die geelkoperslot en stawe wat die Monument se twee voordeure sluit. (Foto: Du Preez de Villiers)
Nou, met hul nuwe glans, nooi hierdie deure weer besoekers in – nie net tot binne-in die Monument nie, maar tot in die hart van ons geskiedenis.