Dis soveel meer as ’n historiese wa – dis hartsherinneringe wat oor meer as ’n eeu in ’n storieskatkis opgesluit is. Skool op Wiele, ’n unieke, vervoerbare klaskamer wat in 1923 in Ermelo gebou is, het ’n merkwaardige reispad deur die dekades beleef. Wat as ’n oplossing vir ’n tekort aan klaskamers opgerig is, het ’n geliefde deel van talle se kinderjare geword. Vandag, 102 jaar later, spog dit steeds met dieselfde wiele, maar met splinternuwe vere – dié keer in die vorm van ’n restaurant.

Die oorspronklike klaskamer, wat sitplek vir 22 leerlinge en ’n onderwyser gehad het, is op die onderstel van ’n ou stoom-dorsmasjien gebou. Om dié klas te skuif, is osse ingespan, met gewillige helpers wat langsaan met toue moes stap om die struktuur regop te hou. Aan die einde van elke jaar het die kinders van omliggende plattelandse skooltjies eksamen in dié besonderse struktuur geskryf.

Hoewel Skool op Wiele van meet af aan ’n belangrike rol in onderwys gespeel het, leef dit veral in die herinneringe van Chrissiesmeer se kinders voort as deel van hul skooldae én speeltyd in die jare vyftig.

Slaapsaal, biblioteek, speelplek

Nico Moolman, wat in 1955 ’n leerder aan Chrissieskool in Chrissiesmeer was, onthou dié klaskamer op wiele wat hulle “die wa” genoem het. Dit het destyds ook as ’n bykomende slaapsaal vir die meisieskoshuis en later selfs as biblioteek gedien.

“Ek onthou ons het in die wa gespeel, en daar is nog merke op die wiele wat ons as kinders daar ingekrap het. Dit het dalk nou al afgeroes,” vertel hy met ’n glimlag.

Moolman, ’n geskiedenisliefhebber wat met sy eie museum buite Utrecht spog, sê dit is vir hom baie betekenisvol dat die wa en sy geskiedenis in die skadu van die Voortrekkermonument bewaar word.

Petro Joubert, ’n skoolvriedin van Moolman wat in 1957 op Chrissiesmeer begin skoolgaan het, het nie self in die wa klas gehad nie, maar sy onthou helder hoe hulle in die wa gespeel het, en hoe sy teen die trappies moes opklim om binne te kom.

“Die wa was deel van ons, en deel van ons skool. Dis wonderlik dat dit op ’n erfenisterrein staan, want dit ís ’n erfenisstuk wat bewaar moet word,” sê sy.

Die wa het vir lank by die Onderwysmuseum in Pretoria gestaan. In 2004 is dit na die Voortrekkermonument-terrein verskuif en in 2021 in die Skool op Wiele-koffiehuis omskep.

Koffiehuis tot restaurant

Op 28 Junie begin ’n splinternuwe hoofstuk met die amptelike opening van die uitgebreide, herontwerpte Skool op Wiele-restaurant.

“Ons is baie opgewonde oor die uitbreiding van dié gewilde en geskiedkundige kultuurkuierplek by die Monument,” sê Samantha Müller, gasvryheidsbestuurder. “Hier is dit heeltyd pouse! Of jy ’n rustige werkplek soek, aan die heerlike kos wil smul, of sommer net sport wil kyk – Skool op Wiele is dié plek om te wees,” sê sy.

Skool op Wiele is bekend vir sy heerlike boepensbroodjies (“jaffels”), roosterkoeke, goudbruin skyfies en ander geurige geregte. Op koue dae word stomende sop met varsgebakte brood voor die ou koolstoof bedien.

Volgens Müller is die historiese wa bewaar, met sy oorspronklike wiele, houtvloere en vensters. “Rondom dié bewaarde kern het die restaurant egter ’n nuwe asem gekry. “Die koffiehuis kon net 50 gaste verwelkom, terwyl die nuwe Skool op Wiele-restaurant met gemak 150 mense kan akkommodeer.”

“Die ontwerp eer die tema van die oorspronklike skool,” sê Belinda Naudé, grafiese ontwerper van die projek. “Daar’s onder meer ’n aantreeblad, ’n outydse snoepiebord, klaskamertemas, en selfs interaktiewe elemente en ’n speletjiesbiblioteek vir kinders. Speels, nostalgies én funksioneel,” sê Naudé.

Volgens Müller skep die kombinasie van gesellige hoekies en oop ruimtes ’n ervaring soos min. “Die restaurant is ideaal vir gesinsetes, ’n gesellige koffiekuier saam met vriende of gesprekke met kollegas.

“Gaste kan hul skootrekenaars saambring en met gratis Wi-Fi en kragpunte sommer hope werk in ’n ongelooflike erfenisomgewing gedoen kry. Vir sportliefhebbers is daar televisies in die eetarea, perfek vir rugbydae of ander groot geleenthede,” sê Müller.