Die Voortrekkermonument se twee geliefde gelukbringers, Oom Paul en Tant Gezina, het op Wêreldbloedskenkerdag bewys dat omgee deur hul are pomp by Pretoria FM se jaarlikse bloedskenkinisiatief.

Op Wêreldbloedskenkerdag (14 Junie) het dié radiostasie hande gevat met die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBD) en 16 gelukbringers van verskeie Pretoriase skole en gemeenskapsorganisasies om die gemeenskap aan te moedig om by die SANBD betrokke te raak.

Mari Oosthuizen, Pretoria FM se redakteur van Varsgepars en Sosiale Media-Nuus, het haar dank uitgespreek aan al die organisasies wat deelgeneem het en sê sy hoop dié inisiatief inspireer duisende om meer gereeld bloed te skenk.

“Op Wêreldbloedskenkerdag wil Pretoria FM bewusmaking bring van die belangrikheid om bloed te skenk en ook mense aan te moedig om meer gereeld bloed te skenk, daarom is ons baie dankbaar aan die Voortrekkermonument en al die organisasies wat saam met ons aan die dag deelgeneem het,” sê Oosthuizen.

Die SANBD besoek gereeld die Voortrekkermonument en daarom het die monumentpersoneel dadelik besluit om in te spring en deel te word van dié dag.

Kristen Naudé, aktrise in die monument se Toekomsbou-museumteater het vir dié dag in Tant’ Gezina se skoene geklim en sê sy is baie bly dat sy die monument vir die projek kon verteenwoordig.

“Vandag is ’n baie spesiale geleentheid om mense te motiveer om terug te ploeg in die gemeenskap, so dit was vir my baie spesiaal om deel te kon wees van die projek,” sê Naudé.

“Dit is uit die aard van die saak vir my ’n riem onder die hart om saam met die monument en al die ander organisasies ’n verskil te kon maak, maar ek dink wat dit meer spesiaal gemaak het, is dat ek en Reagan Smith, my mede-akteur, hiér by Loftuspark ook bietjie kon wys dat die Voortrekkermonument nog lewend en modern is.”

Pretoria FM het verlede jaar op Wêreldbloedskenkerdag 125 eenhede bloed ingesamel en ons hoop om dit vanjaar te ewenaar én oor te steek.

En het hulle dit nie reggekry nie. Deur die bloedskenkaksie kon Pretoria FM xxx eenhede bloed geskenk kry.