Mediaverklaring
19 Oktober 2023
Philip Lourens skenk hommeltuig aan VTM na pa se gedenkdiens
Philip Lourens, seun van Gerhard Lourens, het ’n hommeltuig (beter bekend as drone) aan die Voortrekkermonument oorhandig op dieselfde dag van sy pa se gedenkdiens by die Voortrekkermonument.
“Ek is baie sentimenteel oor die Voortrekkermonument en wil graag bydra om die terrein te beveilig,” sê Lourens.
Gerhard Lourens was ’n voormalige voorsitter van die Voortrekkermonument en het ’n groot rol gespeel in die vernuwing en ontwikkeling van die terrein. Hy het onder andere ’n aandeel gehad in die oprig van die Erfenissentrum, die gedenktuin en die nistuin, waar hy ook neergelê is.
Petré Theron, adjunkhoof van die Voortrekkermonument, het die hommeltuig in ontvangs geneem en hy spreek sy dankbaarheid teenoor Lourens uit.
“Die Voortrekkermonument is dankbaar vir skenkings soos hierdie om ons terrein te beveilig. Ons is al ’n tydjie lank op soek na ’n goeie hommeltuig wat ons in veiligheidsoperasies kan gebruik,” sê Theron.
Lourens wys daarna dat tegnologie die nuwe manier is om sekuriteit te verskerp en dat dit belangrik is om die sekuriteit op hoogte te hou.
“As daardie drone eers in die lug is, is daar niks wat ’n skelm kan doen nie. Hy (die hommeltuig) sien jou en dan is daar geen weghardloop nie.”
Lourens het die hommeltuig al ’n geruime tyd in sy besit gehad, maar nie gereeld gebruik nie. Aangesien hy die Voortrekkermonument moes besoek vir sy pa se gedenkdiens, het hy ook besluit om sý bydrae tot die monument te maak.
Die Voortrekkermonument is dankbaar vir enige skenking of bydrae wat ons help om ons erfenis te beskerm en voort te bou. Jy kan ook ’n bydrae maak deur aan te sluit as ’n vriend van die Voortrekkermonument.