“Ek en my ma is albei lief vir geskiedenis, daarom het ons besluit om vandag die museumteater by die Voortrekkermonument te besoek,” vertel sanger Pieter Smith.

Smith en sy moeder (80) het die interaktiewe ervaring terdeë geniet en Smit se ma het selfs iets op die traporrel in een van die vertrekke gespeel.

“Die vertellings is ongelooflik goed gedoen, die akteurs is wonderlik en ek beveel elkeen aan om dit te kom bywoon,” sê Smith.

Dié museumteater by die Voortrekkermonument is die eerste van sy soort in Suid-Afrika en ook in die Suidelike Halfrond. Die Suid-Afrikaanse geskiedenis word in twaalf tonele en 120 minute deur akteurs vertel. Selfs iemand wat niks weet van die Suid-Afrikaanse geskiedenis nie, sal na die vertoning breedweg ’n idee hê van die storie.

Smith se liefde vir geskiedenis stop egter nie by besoeke nie. Dinsdag 9 April gee Smith ’n lesing oor die Slag van Italeni by Buffelsfontein Beesboerdery se restaurant. Die Voortrekkermonument stal met hierdie geleentheid ook items van daardie veldslag uit wat mense teenwoordig kan besigtig.

Die aand sluit ook ’n vasvra in en bywoners kan beslis verwag om iets te leer wat hulle nie voorheen geweet het nie.

Dit is vir die Voortrekkermonument ’n voorreg om mense te inspireer met verhale uit ons verlede en dit op ’n unieke en kreatiewe wyse te kan aanbied. Jou vriendskap kan ons help om ons erfenis meer toeganklik te maak: www.vtm.org.za/donasies/