Seëlversamelaars en geskiedenisliefhebbers kan hulle vir ’n besonderse belewenis gereed maak, danksy ’n splinternuwe en seldsame argivale wisseluitstalling wat tans in die Senotaafsaal van die Voortrekkermonument te sien is. Die Erfenissentrum se argiefspan het onder meer die versameling seëls wat destyds spesiaal uitgegee is om geld vir die oprigting van die Monument in te samel, uitgehaal om hierdie kosbare kultuurskat vir die publiek te wys.

Seëls en koeverte wat ter viering van die volgende gebeure uitgegee is, word ook uitgestal: die 1938-Groot Trek-eeufees, die inwyding van die Voortrekkermonument (1949), die 25ste herdenking van die Voortrekkermonument (1974) en die 150ste herdenking van die Slag van Bloedrivier (1988).

Die reis van ‘n gedenkkoevert tydens die honderdjarige hedenking van die Groot Trek.

Volgens Petra Luus, argivaris van die Erfenissentrum by die Voortrekkermonument, is die mooi woord vir die versameling van seëls, koeverte en poskaarte filatelie, maar dit is veel meer as net seëls versamel, verduidelik sy. “Dit behels die navorsing, katalogisering en begrip van die geskiedenis en kulturele betekenis van seëls, want dit vertel ’n storie. Seëls is soos legkaartstukkies; hoe meer jy voor jou kan uitpak, hoe duideliker raak die prentjie van ons verlede.”

Aanloop tot die herdenking van die Groot Trek (1933-1938)

In 1933 het die Sentrale Volksmonumentekomitee (SVK), die departement van pos- en telegraafwese genader om ’n spesiale stel seëls uit te bring, met die doel om geld vir die oprigting van die Voortrekkermonument in te samel. Dié spesiale stel het ’n portowaarde, asook ’n monumentboufondswaarde gehad: 1d. seël (½d. porto + ½ fonds); 1½d. seël (1d. porto + ½ fonds); 3d. seël (2d. porto + 1 fonds); 4½ d. seël (3d. porto + 1½ fonds). Die stel is in Oktober 1938 onttrek.

Groot Trek-eeufees (1938-1939)

Aan die einde van 1938 is twee nuwe stelle seëls uitgereik, naamlik die Groot Trek-eeufeesseëls en die Voortrekkerherdenkingseëls. Albei stelle is deur die kunstenaar W.H. Coetzer ontwerp en in Afrikaans en Engels gedruk. Dit was in poskantore reg oor die Unie te koop. Die Groot Trek-eeufeesseëls is in die volgende reekse uitgereik: 1d., 2d., 3d. en 6d.

Die Poswese en Monumentfonds het ’n gelyke bedrag vir die seëls ontvang. Die Voortrekkerherdenkingseëls is deur die regering uitgegee en het slegs die 1d. en die 1¼d. ingesluit.

Om te verseker dat die twee reekse verkoop, het die SVK amptelike koeverte laat druk. Die koeverte is ook deur W.H. Coetzer ontwerp. Koeverte, wat 6 pennies per koevert gekos het, kon op die roete van die 1938-Simboliese Ossewatrek aangekoop word, waar ossewaens die spore van die Voortrekkers gevolg het, vanaf Kaapstad op 8 Augustus tot in Pretoria op 14 Desember.

Die tydelike poskantoor by die Voortrekkermonument tydens die Groot Trek-eeufees.

Die koeverte (met of sonder ’n briefie binne-in) is dan op die waens na die Eeufeesposkantoor, op die Voortrekkermonumentterrein, waar die hoeksteenlegging op 16 Desember 1938 plaasgevind het, vervoer. ’n Tydelike poskantoor is spesiaal vir die gebeure opgerig. Hier is die koeverte met ’n spesiale stempel gemerk en deur die departement van poswese na die persoon gestuur aan wie die brief gerig was.

Die totale inkomste uit die verkoop van die seëls en koeverte van 1933 tot met die onttrekking op 31 Mei 1939 was £25 318.

Inwyding van die Voortrekkermonument (1949)

Ter viering van die inwyding van die Voortrekkermonument, op 16 Desember 1949, is nog ’n stel herdenkingposseëls uitgegee. Drie spesiale seëls, elkeen net vir die portowaarde en dus geen heffing vir die Monumentfonds nie, is in omloop gebring. W.H. Coetzer het weer eens hierdie seëls ontwerp. ’n Tydelike poskantoor is ook in 1949 opgerig.

Voortrekkermonument word 25 (1974)

Ter viering van die Voortrekkermonument se 25ste bestaansjaar, is daar in 1974 ’n seël uitgebring wat deur die kunstenaar Johan Hoekstra ontwerp is.

Koevert en seël uitgegee ter herdenking van die 25ste bestaansjaar van die Voortrekkermonument

Bloedrivier: 150-jaar herdenking (1988)

Seëls en koeverte is ook met die 150ste herdenking van die Slag van Bloedrivier ontwerp. Sketse van die tapisserieë in die Voortrekkermonument, ontwerp deur W.H. Coetzer, is vir die seëls gebruik en sluit in Die Uittog en Oor die Drakensberge. Die skildery van die Geloftekerk in Pietermaritzburg, deur Pierneef, is ook as seël gebruik.

Volgens Luus is dié besonderse uitstalling tot 1 Oktober te sien – genoeg tyd vir elke persoon met ’n waardering vir ons geskiedenis om meer oor die seëls te wete te kom. “Kom besigtig ons unieke versameling seëls, koeverte en dokumente, asook die foto en tekening van hoe die poskantoor in 1938 gelyk het en waar presies dit op die Voortrekkermonumentterrein geleë was,” sê sy.

“Kom wys jou kinders en kleinkinders hoe mense voor selfone gekommunikeer het – dis baie meer opwindend as ’n ‘WhatsApp’-boodskap!”