Soms kruis ’n mens se pad met ’n storie so kosbaar dat dit jou hartsnare diep raak. Die storie van die negejarige Vernique Swanepoel is een van daardie verhale – ’n storie van moed, deursettingsvermoë en ’n klein meisie met ’n groot liefde vir haar taal en erfenis.

Vernique leef met sistiese fibrose, ’n seldsame genetiese siekte wat veral die longe, maar ook die pankreas, lewer, niere en die derms kan aantas. Sy is egter nie net ’n vegter nie, sy is ’n skepper, ’n dromer en ’n dogtertjie met ’n opregte bewondering vir die geskiedenis van haar mense.

Toe sy ’n skoolopdrag kry om navorsing te doen oor die plaaslike geskiedenis, het sy nie net ’n verslag soos haar maatjies geskryf nie. Sy het besluit om die Voortrekkermonument met haar eie hande te bou.

 

 

“Dit is baie spesiaal om meer van die Voortrekkers en wat hulle gebou het, te leer,” sê sy trots. Met klei en karton het sy haar eie weergawe van die Monument geskep – ’n simbool van hoop, toewyding en trots. Maar meer as dit, het sy iets geskep wat háár storie vertel – ’n monument van moed.

“Toe die Voortrekkermonument Vernique se storie hoor, het ons geweet sy verdien om die ‘regte’ Monument te sien. Ons het haar en haar ouers na die Monument genooi vir ’n spesiale besoek – nie net om haar passie vir haar erfenis te vier nie, maar ook om haar in haar dapper stryd teen sistiese fibrose bietjie te bederf,” sê Dawid Brand, bedryfshoof: beeld en groei van die Voortrekkermonument.

 

By die Kultuurtuiste kon sy sommer baie meer te wete kom oor die Voortrekkers wat haar so inspireer. Met ’n begeleide toer het sy haar kleimonument met die regte een vergelyk en besef dat albei op hul eie manier ’n storie van deursettingsvermoë vertel.

Wanneer sy oor haar lewe praat, is daar ’n opregte sagtheid in haar woorde. Sy is ’n kind wat verstaan dat die lewe nie altyd maklik is nie. Maar sy weet ook hoe belangrik dit is om sterk te bly. “Dis moeilik, maar jy moet altyd jou pille drink en luister na die dokter,” sê die wyse klein meisie met ’n vonkel in haar oog. Gedurende haar eie uitdagings, is haar ma haar grootste steunpilaar, sê sy. Sy stap elke tree saam met haar.

 

Vernique mag dalk nog jonk wees, maar sy het groot toekomsplanne. Sy droom daarvan om eendag ’n programmeerder te word – ’n beroep wat haar kreatiewe denke en deursettingsvermoë perfek sal pas. En daar is geen twyfel dat sy daarin sal slaag nie.

 

“As sy ’n Monument uit niks kon bou met net klei en ’n groot hart vol drome, kan sy enigiets bou. Vernique is ’n voorbeeld en bewys dat van die mooiste monumente nie van klip gemaak is nie, maar van moed, passie en ’n onwrikbare gees,” sê Brand.