Deur Du Preez de Villiers
As die Voortrekkermonument deel van jou skoolwapen is, kan jy vir seker nie anders nie as om ’n hegte verhouding met hierdie prominente kultuurbaken te bou. Hoërskool Dr. E.G. Jansen het besluit om dié week hul toptienpresteerders uit elke graad vir ’n bederfuitstappie na die Voortrekkermonument te bring.

Die leerders van Hoërskool Dr. E.G. Jansen kyk hoe word ’n sweep by die Voortrekkermonument geklap. (Foto: Charlotte Drotsky)
Die groep van 50 leerlinge het Vrydagoggend vroeg al die pad vanuit Boksburg by die Kultuurtuiste aangekom en is deur ’n burger op ’n perd met voorlaaier in die hand welkom geheet. Daarna is die Jansies deur die Lewende Laer geneem sodat hulle kon vat en voel, kon belééf hoe Afrikanerkultuur uit vervloë dae gelyk het. By die Plaaskombuis het hulle geleer hoe ’n regte Boerebrood gebak word.

Die Jansies beleef eerstehands hoe ’n regte Boerebrood gebak word. (Foto: Charlotte Drotsky)
Volgens Freek Erasmus, skoolhoof, bederf hulle elke jaar die leerlinge wat uitsonderlik hard gewerk het. Vanjaar het hy dit goedgedink om dié groep flinkdinkers vir ’n opvoedkundige toer na die Voortrekkermonument te bring. “Ons probeer om meer geskiedkundige terreine te besoek en ’n trots vir die Afrikaanse taal en die Afrikanerkultuur by ons kinders te kweek.
“Ons kinders kry nie meer die geleentheid om hierheen te kom nie. Van hierdie 50 leerlinge was seker net 10 al voorheen by die Monument,” sê hy.

Hoërskool Dr. E.G. Jansen se leerlinge vertroetel ’n klein bokkie op die Plaaswerf. (Foto: Charlotte Drotsky)
E.G. Jansen is ’n trotse Afrikaanse skool en het die week ook ywerig Afrikaans se 100ste bestaansjaar as amptelike landstaal gevier. “Dit is vir my baie interessant om te hoor hoeveel Afrikaanse musiek die kinders luister. As hulle sokkies en danse by die skool hou, kraai Afrikaanse musiek beslis koning. Die gebruik van Afrikaans is gesond onder ons kinders en daar is voorwaar ’n trotse gevoel oor ons mooi taal,” sê hy.

Hoërskool Dr. E.G. Jansen se leerlinge beleef die Lewende Laer by die Voortrekkermonument. (Foto: Charlotte Drotsky)
Die toer deur die Monument self het die nuuskierige slimkoppe gaande gehad. Hulle het met ontsag die enorme struktuur bekyk en aandagtig geluister na die verhaal oor die Groot Trek wat in die wêreld se grootste friesnarratief uitgebeeld word.
Hoërskool Dr. E.G. Jansen se leerlinge met hulle swart, geel en rooi skooldrag voor die Voortrekkermonument. (Foto: Samantha Joubert)

Hoërskool Dr. E.G. Jansen se leerlinge met hulle swart, geel en rooi skooldrag voor die Voortrekkermonument. (Foto: Samantha Joubert)
Samantha Joubert, organiseerder van die top-50-leerlinge, sê sy is baie dankbaar dat die Voortrekkermonument die volle geskiedkundige verhaal onbeskaamde vertel. “Die kinders het opnuut geleer wat dit is om Afrikaans te wees en waardeur Afrikaners gegaan het om te kom waar ons vandag is,” sê sy.

Die vier onderwysers van Hoërskool Dr. E.G. Jansen wat die toer meegemaak het, is Corné de Klerk, Freek Erasmus (skoolhoof), Marilie Ferreira en Samantha Joubert. (Foto: Verskaf)