Deur Leonie Marais
Op Saterdag 5 April het oud-Koevoete by hul monument op die Voortrekkermonument-terrein bymekaargekom om hulle lofryke bestaan te herdenk.
Koevoet is in 1979 in die lewe geroep en is tydens die Suid-Afrikaanse Grensoorlog as ’n spesiale teeninsurgensie-eenheid van die Suidwes-Afrikaanse polisie (SWAPOL) ontplooi. Tot en met 1989, toe die oorlog beëindig is, het Koevoet ’n gedugte mag geword om mee rekening te hou toe hulle honderde opsporings- en vernietigingsoperasies teen die People’s Liberation Army of Namibia (PLAN) uitgevoer het.

Oud-Koevoete woon hul eenheid se gedenkdiens by. (Foto: Leonie Marais)
Dink jou in … ’n Helikopter styg op, die soldate op die grond draai hulle koppe weg sodat die dik sand nie in hulle oë waai nie; in die helikopter is ’n medesoldaat wat die hoogste prys betaal het. Dit was die openingsopmerking tydens die afgelope Koevoet-gedenkdiens by die Koevoet-gedenkmuur wat op die Voortrekkermonument-terrein geleë is. Op die muur is 165 name van gevalle makkers wat by die naam na hulle laaste rusplek gegaan het. Die aansteek van die Herdenkingskers vind plaas met die belofte – “Ons sal onthou”.

Oud-Koevoet-spoorsnyers vanaf Vingerkraal naby Mabula betoon eer aan hul makkers. (Foto: Leonie Marais)
Slaapsakke word aangegee vir die logistieke personeel op die Blesbok. Die Koevoet-soldate val sonder bevel in parade. Kort, kragtige instruksies deur die bevelvoerder, dan skriflesing en gebed, altyd skriflesing en gebed. Ds. De Witt, ’n afgetrede kapelaan-generaal van die Suid-Afrikaanse Weermag, verduidelik hoekom godsdiens so belangrik op die grens was. “Dit het ’n stryd geword, maar ons het vir mekaar gesê … Vertrou op die Here. In terugblik het daar baie gevaarlike dinge gebeur en baie gebede is gebid … Here, U was daar,” sluit hy af.

Met hul vaandels in die hand bring Koevoet-veterane hulde aan hulle eenheid voor die Koevoet-monument en -gedenkmuur op die Voortrekkermonument-terrein. (Foto: Leonie Marais)
Die son is besig om sy geveg teen die nag te verloor. Die Ovambo’s praat nog om die vuur oor die teenspoorsny-spoor wat hulle vandag ontbloot het. Iewers is ’n Koevoet-soldaat besig om die dik sand van Ovamboland in ’n enkelbed te verander. Soos Casspirs en Wer’wolwe was die sand deel van Koevoet gewees.

Generaal Johan Burger van die Teeninsurgensie-eenheid. (Foto: Leonie Marais)
Dan vind die tradisionele Sandlegging-seremonie plaas. Die immergewilde Koevoet-deuntjie “Green Boots” speel, dan die vaandellegging. Vaandels is regdeur die geskiedenis gebruik om op die slagveld te kommunikeer en die vaandellegging is ’n belangrike deel van die verrigtinge by enige militêre gedenkdiens. Die laaste Taptoe word gespeel, dan die twee minute van stilte … Een vir dié wat teruggekeer het, die ander vir dié wat nie teruggekeer het nie. Die reveille speel … “Word wakker, word wakker, daar is werk op die akker, Koevoet-soldaat.”

Kapelaan Ds. Johan de Witt beklemtoon hoe belangrik jou geloof ten tye van oorlog is. (Foto: Leonie Marais)
Generaal Johan Burger van die Teeninsurgensie-eenheid merk op dat dit moeilik is om objektief na instellings te kyk. Hy noem verder dat hy ’n noue band met Koevoet het en dat dit vir hom moeilik is om objektief oor Koevoet te gesels. “Om te onthou en respek te betoon, is reg, maar die Bosoorlog is verby en ons moet aanbeweeg,” merk Burger verder op. “Leef vir die nou en die hier en vir die toekoms; dis ’n verantwoordelikheid teenoor ons geliefdes vir wie ons genadiglik gespaar is. Die een les uit die Bosoorlog is … dat ons ons geliefdes ten alle koste hierdie vreeslike ervaring wil spaar.”

Stafsersant Phillipus Hifikepunye beleef ‘n diep oomblik. (Foto: Leonie Marais)
Laastens is die Ovambo-spoorsnyers vir hul besondere bydrae bedank – die hard-op-spoor- en teenspoorsny-spesialiste wat so baie lewens gered het. Aan die einde van die verrigtinge sing hulle die Ovambolied.
Saluut aan elke Koevoet-lid.