Mediaverklaring

28 November 2023

Toneelspel seëvier tydens Gelofteweek by die Voortrekkermonument

Vanjaar se Gelofteweek-feesvieringe by die Voortrekkermonument het geen tekort aan kultuuraktiwiteite nie en die kunste trek beslis nie aan die kortste end nie. Die toneelstukke is veral iets besonders op die program en daar is iets vir elke teaterliefhebber.

Daar is ses teaterproduksies wat tydens Gelofteweek op die planke sal wees: Dinner for one en Liewe Heksie deur Lefra Produksies, ook Omwenteling, Van Bloedrivier tot Bosoorlog, Op die plaas toneel en die Toekomsbou Museumteater.

Omwenteling is ’n briljante eenmanvertoning opgevoer en saamgestel deur Johan Scholtz. Die opvoering bestaan uit sestien gedigte, agt liedjies en twee monoloë.

Hierdie toneelstuk is deel van die Kundramus-groep, wat die samekoms van kuns, drama en musiek verteenwoordig. Die toneelstuk is saamgestel om al drie hierdie elemente te bevat, wat dit veral uniek en besonders maak.

“’n Klomp kunstenaars het saamgekom en gedink hoe kan ons ’n produksie skep waar kuns, drama en musiek verteenwoordig word. So is Omwenteling geskep,” sê Scholtz.

Scholtz hoop dat mense ’n boodskap van naasteliefde en verhoudinge saam met hulle huis toe neem. “Daar is ’n God en dis waarom alles wentel. Ons wentel om God en mense wentel ook om mekaar. Ons verhoudinge met mense is wat die skepping betekenis gee.”

Op die plaas toneel is ’n vars bries in die wêreld van teater en die gehoor kan jong talent op die planke geniet.

Carel Boshoff is ’n jong skrywer-akteur van die Noord-Kaap en hy en sy vennoot, Frans de Klerk, ook ’n jong akteur, het hierdie toneel opgevoer vir hul plaaslike gemeenskap en toe besluit om ’n groter gehoor te bereik. Die energie en entoesiasme waarmee die toneelspel uitgevoer word, is verfrissend en bring iets splinternuut tot die planke.

“Ek was lus om iets te skryf wat ons toelaat om pret te hê met die gehoor, die ‘vierde muur te breek’ soos dit soms genoem word, op ’n manier wat dit nie die gehoor se inlewing in die toneel, of die karakters se geloofwaardigheid breek nie,” sê Boshoff.

Hierdie komedie handel oor Francois en Thomas, twee neefs, wat ’n plan moet maak om hulle plaas te red. Met een ’n stadsjapie en een ’n gebore boer dink hulle lawwe planne uit wat jou in jou mou sal laat giggel.

“Ons het die grappies so dig gepak as wat die papier waarop ons geskryf het dit toegelaat het en dit bymekaar geryg met spanning, konflik, tragedie en (hopelik) ’n gelukkige einde. Ek daag enige iemand uit om te probeer om dit nie te geniet nie!”

Boshoff hoop ook mense voel agterna dat Afrikaans net so snaaks, vermaaklik en aangrypend kan wees soos enige ander taal op aarde.

Die Voortrekkermonument is ’n kultuurtuiste waar ook teater sy plek het en hopelik nog baie groter sal groei. Hierdie toneelstukke is beslis iets om te ondersteun, agteroor te sit en dit te geniet!

Kry jou kaartjie en sien die program hier: https://vtm.org.za/gelofteweek-2023/.