Die heel eerste boeremark wat op Saterdag 25 April by die Voortrekkermonument in samewerking met die Suider-Afrikaanse Landbouinisiatief (Saai) aangebied is, sal as ’n besonderse mylpaal in die geskiedenis van dié ikoniese erfenisterrein onthou word.
Ten spyte van die koue, reënerige weer het bykans 2 000 mense die geleentheid bygewoon wat onder die amfidakke by die Monument gehou is. Besoekers het reeds vroegoggend ingestroom om deel van dié unieke geleentheid te wees waar boere, gesinne en kultuurliefhebbers saam kan kuier en stories kan deel.
Met sowat 70 stalletjies wat alles van vars produkte, vleis en gebak tot klere, plante en tradisionele handewerk gebied het, moes uitstallers bontstaan om in die groot vraag te voorsien. Talle stalletjiehouers moes deur die loop van die oggend nóg voorraad gaan haal.
Die unieke atmosfeer het ’n gevoel van samehorigheid geskep waarin kopers en verkopers nie net handel gedryf het nie, maar op ’n dieper vlak met mekaar verbind is.
Die Boeremark se doel is tweeledig: om besoekers ’n rede te gee om hierdie erfenisterrein van naderby te ervaar, én om vir boere ’n broodnodige, regstreekse afsetpunt vir hul produkte te skep. Die eerste mark het onomwonde bewys dat dié doelwitte nie net haalbaar is nie, maar broodnodig.
Ofkoon dit ’n klein begin was en talle lesse geleer is, het die Boeremark die groeipotensiaal om ’n groot én gereelde gebeurtenis by die Monument te word.
Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, wat ’n netwerk van familieboerderye en instellings is, sê die Voortrekkermonument is ’n belangrike vennoot. “Hier is wonderlike fasiliteite by die Monument en dit is as’t ware of hierdie plek ontwerp is om ’n boeremark te huisves. Dit is egter veel meer as ’n boeremark; dit is ’n besonderse erfeniservaring en gesinsfees uit en vír die gemeenskap.”
Die mark se sukses is verder versterk deur die teenwoordigheid van honderde deelnemers aan die weeklikse Parkrun wat elke Saterdag by die Voortrekkermonument aangebied word. Talle drawwers en stappers het ingeloer, ’n koppie koffie geniet en vars produkte gekoop – ’n bewys dat die Boeremark sommer van meet af aan ’n natuurlike deel van die Saterdagoggendritme by die Monument is.
Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Kultuurtuiste, sê die Boeremark is veel meer as ’n handelsgeleentheid. “Boere is nie net die lewensaar van ons ekonomie nie, maar ’n onlosmaaklike deel van ons erfenisverhaal. Met die Boeremark by die Voortrekkermonument vier ons geskiedenis én kultuur. Ons vier bowenal die vrug van elke boer wat in die ongenaakbare Afrika-son vir kos op ons tafels sorg.”
Langner meen die dag het mense weer laat stilstaan by die lang reis van saadjie tot smulkos. “Ons koop dikwels kos sonder om te dink aan die mense wat op hul knieë vir reën en seën gebid het. Die Boeremark herinner ons daaraan om dié mense te eer en te vier. Ook diegene wat met moeite en passie produkte met die hand maak.”
Die organiseerders se langtermynvisie is om die Boeremark mettertyd uit te brei tot 300 stalletjies, met ’n nóg groter verskeidenheid vars plaasprodukte, asook aktiwiteite en vermaak.
Die Boeremark het nie net ’n suksesvolle afskop beleef nie, maar reeds ’n stewige voetspoor gelaat as ’n nuwe kuiergeleentheid waar kultuur, gemeenskap en volhoubare landbou hand aan hand stap. Die Voortrekkermonument en Saai het bewys dat, selfs te midde van uitdagings, hoop en groei moontlik is wanneer mense rondom gedeelde waardes saamkom.




