Die pragtige Voortrekkermonumentterrein is die ideale plek vir ’n ikoniese funksie of afsluiting. Op Vrydag 15 Maart 2024 het die Voortrekkermonument ’n fasiliteite-opedag gehou en tientalle mense het die geleentheid bygewoon. 

Elke saal en fasiliteit is tot sy volle potensiaal opgemaak en die gaste het die geleentheid gekry om “aan te sit” om ’n gevoel van die atmosfeer van die fantastiese fasiliteite te kry. 

Cornell Burger en haar gesin besoek gereeld die monument se fasiliteite en haar dogter het ook by die Voortrekkermonument se kapel getrou. “Al die fasiliteite is mooi opgemaak en ons wou graag kom kyk vir idees,” vertel Burger.

Bianca Stevens, bemarker by Laerskool Hennopspark het kom naspeurwerk doen. “Ons is baie keer op soek na geleenthede om afsluitingsfunksies van die skool te hou. Ons het al in die verlede van die monument se fasiliteite gebruik gemaak en ons sal beslis weer so maak,” sê Stevens. 

Melinda van Vuuren sê Stokkiesdraai het vir haar veral uitgestaan. “Dit is die ideale plek om ’n verjaarsdagpartytjie te hou. Ek is al klaar besig om te dink aan wie volgende verjaar en wat ons kan reël,” vertel sy. 

Die Voortrekkermonument sal binnekort weer ’n fasiliteite-opedag hou. As jy graag ’n fasiliteit wil bespreek vir daardie spesiale geleentheid, kontak gerus besprekings@kultuurtuiste.org.za.